’n Graad 12-leerder van Breërivier Senior Sekondêre Skool in Worcester sê sy is getraumatiseerd nadat ’n onderwyser haar na bewering aan die skouer gegryp en ten aanskoue van ander leerders by die trappe van die skool se verhoog opgesleep het.
AO Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, bevestig die Worcester-polisie ondersoek ’n saak van aanranding.
Die beweerde voorval het Donderdag (18 September) in die skoolsaal gebeur kort nadat die matrieks hul Geskiedenis-vraestel voltooi het.
Die hartseer leerder sê kort nadat sy haar vraestel voltooi en ingehandig het, het sy toestemming by een van die toesighouers, ’n onderwyser, gevra om badkamer toe te gaan omdat sy ’n nood gehad het. Sy sê die onderwyser het geweier en toe sy wou opstaan, het die betrokke onderwyser haar terug in haar stoel gedruk.Volgens die leerder het sy die onderwyser gesmeek om haar badkamer toe te laat gaan.
Sy sê nadat sy en dié betrokke onderwyser “ ‘n bietjie gestoei” het, het hy haar gelos.
Die leerder sê net toe sy op pad uit is, het sy gevoel hoe iemand haar van agter aan die skouer gryp. Volgens haar was dit die onderwyser teen wie sy later ’n klagte gaan aanmeld het. Die leerder sê die onderwyser het haar “getrek” en “geruk”.
Volgens haar het sy op die verhoog se trappe geval toe sy en die onderwyser “gestoei” het. Sy sê nog voordat sy kon opstaan, het die onderwyser haar aan die skouer by die trappe op gesleep.
Die leerder sê sy het haar laerug in die proses beseer.
“Nie een van die ander onderwysers wat in die saal was, het [die] meneer gekeer nie. Ek het self losgekom van [hom] af. Ek het gehuil en is reguit huis toe.“Ek was baie vernederd. Ek is nog nooit so behandel nie.”
Volgens die leerder het sy nog nooit vroeër ’n probleem met die betrokke onderwyser gehad nie.
Laetitia Ahmed, die graad 12-graadhoof by Breërivier Senior Sekondêr, sê in ’n beëdigde verklaring dat die graad 12-leerders op 18 September van 09:00 tot 12:00 die tweede geskiedenis-vraestel afgelê het. Luidens die verklaring was sy en nog drie vroue-kollegas teenwoordig toe die betrokke vraestel geskryf is.
“Teen 12:10 het ek ’n dringende boodskap aan die [hoof] gestuur en twee adjunkte het ons kom help met die ongeskikte graad 12-leerders.”
Volgens Ahmed het hulle in daardie stadium vier leerders, onder wie die klaagster, geïdentifiseer wat nie wou stilbly nie “en chaos veroorsaak het”.
Twee senior personeellede, onder wie die onderwyser teen wie die klagte later aangemeld is, het opgedaag.
Sy sê die een personeellid het na die verhoog beweeg waar die leerder wat die klagte aangemeld het, aanhoudend gesit en gesels het. Volgens Ahmed het die betrokke leerder gedreig om te loop terwyl die ander leerders moes sit totdat daar stilte in die saal was.
Sy sê die leerder het opgestaan en die ander senior personeellid verskeie keer uitgetart deur links en regs om ’n tafeltjie te beweeg.
“Dit sal ook duidelik op kamera te sien wees.”
Volgens Ahmed het die betrokke leerder by die trappe afgestap. Sy sê die onderwyser, teen wie die klagte later aangemeld is, het nader beweeg om die leerder te keer.
“In die proses het hy haar aan haar skooltop geruk. Sy het gegly en op die trappe teruggeval. Ek en die ander onderwysers het hom aangesê om haar te los dat sy haarself verdaag.
“Sy het uitgestap terwyl ander leerders haar toegejuig het.”
Volgens Ahmed het die betrokke leerder voor 13:00 op dieselfde dag saam met haar tante by die skool opgedaag. Sy sê sy (Ahmed) en die hoof het die leerder en haar tante te woord gestaan.
Volgens Ahmed het die leerder beweer sy wou badkamer toe gaan, terwyl sy enige tyd die badkamer kon gebruik terwyl hulle skryf, en dat die ander senior personeellid hulle verdaag het terwyl sy (die leerder) alleen opgestaan het om te loop.
Volgens Ahmed het die leerder ook erken dat die betrokke onderwyser, teen wie sy later die klagte gaan aanmeld het, haar nie gestamp of neergegooi het nie, maar wel net aan haar top geruk het.
Ahmed sê sy het die leerder en haar tante vergesel tot waar hulle die agterhek sou gebruik.
“Ek was onder die indruk dat die saak opgelos was.”
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), sê die departement dra kennis van die aantyging. Volgens haar is die saak volgens die verwagte protokol aangemeld en bestuur. “Ons ondersoek die beweerde voorval en sal die nodige berandingsondersteuning verskaf.”





