Laingsburg is bekend vir twee goed – eerstens die aaklige vloed wat die dorp ’n paar dekades gelede amper vernietig het, en in ’n ligter luim, die reuk van tuisgemaakte roosterkoek wat net-net nie op die knetterende vuur langs die N1 vasbrand nie.
Roseline van As (66), oftewel Tannie Poppie, is al ’n gereelde instelling vir besoekers wat deur hierdie dorp ry en is ook internasionaal bekend vir haar roosterkoeke. Sy berei nog elke dag met behulp van familielede hierdie roosterkoeke en mense ry van heinde en ver om haar gebak te kom geniet.
Sy het ook onlangs begin om deur verskeie dorpe te toer en haar stalletjie op te rig. Mense staan behoorlik tou en sy bly nie voor nie. Haar seun het selfs al in Worcester begin uitbrei met haar roosterkoeke en nou gaan haar dogter, Naomi Etson, ’n tak in Macassar naby Strand stig. Almal is baie opgewonde oor hierdie jongste planne.
“Mense vra al lank wanneer gaan ons uitbrei, en nou gaan my dogter, wat in die Kaap woon, dit daar ook bied. Ek is baie trots op haar. Sy het my ook altyd met my roosterkoeke gehelp,” vertel Tannie Poppie aan Standard.
Tannie Poppie is ’n boorling van Touwsrivier en sy en haar man het as konstruksiewerkers aan die N1 tussen Touwsrivier en Laingsburg help bou. Hulle moes noodgedwonge weens dié trek, en dit is waar haar idee gebore is.
Sy het die behoefte aan varsgebakte brood in beide Touwsrivier en Laingsburg besef en besluit sy sal sowat R2 500 bestee om die toerusting aan te skaf om ’n mini-bakkery te begin. Daardie planne het ongelukkig misluk.
“’n Mens kry nie ordentlike brood in die dorp op ’n Sondag nie. Dan skarrel jy rond. Brood is ’n goedkoop en vullende stapelkos, wat amper almal eet.
“Ek het destyds gebruikte toerusting gekoop, maar dit was foutief en gedeeltelik gebreek. ’n Plaaslike man het egter oor my pad gekom en gesê ek moet brode op die oop vuur begin bak.
Ek het eers brode begin bak, en later roosterkoeke.
“Nou is dit landwyd en selfs wêreldwyd bekend.”
Tannie Poppie vertel sy was as kind “vet en rond”, en haar oom het haar Poppie gedoop omdat sy soos ’n pop gelyk het.
Sy het in 2019 die geleentheid gekry om oorsee te reis en haar befaamde roosterkoeke vir ’n fietswedren in Italië te gaan bak. Sy is daarna Frankryk toe om vir die beroemde sjef Jan-Hendrik van der Westhuizen in sy Michelin-ster- restaurant ’n paar roosterkoeke te gaan bak. Daarna was sy nog meer bekend en het selfs op Karen Zoid se geselsprogram, Republiek van Zoid Afrika, op KykNET verskyn.
Daarna het sy aangehou om te doen waarvoor sy lief is. Mense knoop ook graag geselsies met haar aan.
“Dit is altyd lekker om nuwe mense te ontmoet en dis lekker as mense my vir my roosterkoeke komplimenteer. Dit is waarom dit vir my ’n eer is dat my kinders die naam verder dra en ook vir ’n lewe doen wat ek doen.”
Die familie het groot planne en wil nog meer uitbrei. Vir nou sal die roosterkoeke in Worcester, Macassar en Laingsburg beskikbaar wees, hoewel Tannie Poppie graag met haar braaier en roosterkoeke reis.





