Inwoners van Worcester is bekommerd oor die skade wat voertuie opdoen as hulle bloot net uitry by een van die dorp se nuwe kitskosrestaurante.
Die gewilde kitskosrestaurante Burger King en Nandos het einde verlede jaar hul deure in Worcester oopgemaak en vir opwinding in die dorp gesorg. Besoekers het die eerste paar weke omtrent tougestaan om hierdie nuwigheid te probeer.
Dit is egter wanneer jy wil uitry by die uitgang vir Burger King se deurry-kliënte dat jy met vrees deur jou tande sis sou jou motor te laag wees en teen die teerpad skraap.
Talle besoekers aan die restaurant sê hul voertuie het al skade opgedoen, aangesien die uitgang te steil is en nie gelydelik by die pad inskakel nie.
“Ek ry ’n Toyota Hilux en my vrou ’n Volkswagen Polo. Ons was ’n paar weke terug daar met die kar en het ’n lelike hou aan die onderkant van die kar opgedoen aangesien die uitgang steil is en te laag aansluit by die pad oorkant die mall.”
So meen Victor Stewart, ’n inwoner van Worcester. Stewart sê egter dat sy bakkie geen probleme ondervind om daar te ry nie, maar dat lae voertuie geweldig sukkel.
Talle inwoners het ook op ’n plaaslike Facebook-groep oor dieselfde probleem gekla.
Vroeër vandeesmaand het ’n munisipale vullistrok wat sy rondes gedoen het ook daar uitgery en vasgesit.
Die vullistrok moes met behulp van versterking gehelp word om uit dié verknorsing te kom.
Nicolette Steyn het op ’n plaaslike groep ook gevra of daar iets aan die situasie gedoen gaan word.
“Ek het uitgereik na die restaurant en op Facebook ook gekla oor die uitgang. My kar (’n Volvo X60) het ook lelik gekrap toe ek daar uitgery het een dag.
“Ek het geskrik, want ’n mens verwag dit nie. Iemand gaan nog erger skade daar opdoen as iets nie daaraan gedoen word nie,” sê sy.
Standard het self ondersoek gaan instel en kan bevestig dat die uitgang na die pad – veral vir klein voertuie – ’n gevaar inhou. Dit is ook duidelik aan die merke op die teerpad dat talle al wel ernstige skade gely het.
Standard het navraag gedoen by die plaaslike kontrakteurs wat die geboue opgerig het en pertinent gevra wie verantwoordelik is vir daardie uitgang en die feit dat mense skade ly. Standard wou ook weet of hulle bewus is van die inwoners se klagtes en of hulle planne het om dit te verbeter.
Die maatskappy het egter geweier om aan Standard terugvoer te gee.
“Ongelukkig mag ons nie enige van die vrae beantwoord nie. Julle kan met die eienaar van die geboue praat. Ons mag nie die inligting uitgee nie,” het Marelize de Kock van Boland Bouers aan Standard gesê.
Daar is ook navraag gedoen by Burger King self. Teen druktyd was navrae steeds onbeantwoord.
Die Breedevallei-munisipaliteit meen egter dat hulle reeds met al die betrokke partye gepraat het en dat oplossings reeds bespreek is.
Sam Orton, bestuurder van die Mountain Mill Mall, onder wie hierdie geboue ook ressorteer, verduidelik dat die proses reeds van stapel gestuur is.
“Ons is bewus van die klagtes en het reeds met almal vergader. Nuwe planne is opgestel en ons beoog om so gou moontlik die probleem op te los. Ons het ook ’n tydelike bord opgerig om mense te waarsku oor die uitgang en ’n alternatiewe roete is ook beskikbaar.”





