Die Breedevallei-munisipaliteit se burgemeester, Antoinette Steyn, het ’n nuwe projek begin waarin sy sakeondernemings blootstelling gee.

Die burgemeester het ’n tydjie gelede begin om video’s op haar amptelike Facebook-blad, Uitvoerende Burgemeester/Executive Mayor’s Office Antoinette Steyn, waar sy by verskeie klein en nuwe ondernemings kuier, te plaas.

Volgens Steyn spruit hierdie inisiatief uit die inspirasie wat inwoners van die dorp vir haar bied.

“Dit is regtig die mense van die dorp wat my geïnspireer het om dit te begin doen – juis omdat hulle steeds deur hierdie moeilike tye en omstandighede streef om iets te wil begin,” verduidelik sy.

Sy verduidelik ook dat sy hierdie ondernemings wil help deur hulle deur haar video’s aan die gemeenskap bekend te stel.

“Soms is plekke weggesteek en nie almal weet hulle is daar nie. Ek kan deur die video’s die aandag op hulle vestig. Mense in die dorp moet bewus wees van die goeie plekke en die mense daaragter – mense wat ’n inkomste probeer genereer en ook sodoende ander families voed deur middel van die mense wat hulle in diens neem.”

Steyn maak ook nie afsprake wanneer sy na ’n sekere onderneming wil gaan nie.

“Wanneer ons werk alles op datum is, sal ons na ’n plek toe gaan, en wanneer ons daar kom, sal ons verduidelik wat ons wil doen. Dis beter so – dan praat mense uit die hart uit in plaas daarvan dat hulle iets gaan voorberei of moeite doen vir ons besoek. Dis nie waaroor dit gaan nie.”

Een van die ander redes waarom sy met hierdie projek begin het, is om ’n ekonomiese inspuiting vir die dorp te gee.

“Ek wil ’n platform skep vir mense met kleiner ondernemings. Mense moet sien hoeveel moeite en harde werk ander in hul ondernemings inploeg. Dis mense wat hard probeer om in hierdie moeilike ekonomiese omstandighede suksesvol te wees.”

Verder sê sy die doel is om by soveel klein ondernemings moontlik te gaan inloer.

“Ons was ’n bietjie besig met ons werk hierdie week, maar volgende week gaan ons weer voort met die besoeke.

“Ons gaan binnekort na De Doorns, Touwsrivier en Rawsonville – daar is ’n paar ondernemings wat ons wil gaan besoek.”

Sy beplan ook om video’s met verskillende boodskappe as die tema te maak, maar sal dit eers later in die jaar – net voor Kersfees – begin doen.

Op die ou einde, meen Steyn, gaan dit alles daaroor om die dorp se ekonomiese ontwikkeling ’n hupstoot te gee.

“Almal verdien ’n kans en die ondersteuning van die gemeenskap.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article