‘n Inwoner van Robertson het ‘n uitsonderlike mylpaal behaal toe sy onlangs haar 105de verjaardag gevier het.
Hettie Walters, ‘n inwoner van Huis le Roux, het Donderdag 5 Junie hierdie besondere verjaardag saam met een van haar twee dogters, Tertia Bruwer, gevier. Sy het ook besoek ontvang van Langeberg se burgemeester, Schalk van Eeden, sy assistent, Riaan de Jongh, en van Ronél van Tonder, die ondervoorsitter van die beheerraad van Huis le Roux, sowel as Jannie Rall.
Op 105 geniet sy dit nog om haar naels en hare te laat doen. Hoewel sy moeilik loop en effens hardhorend is, is Tannie Hettie geseënd om nog helder te wees.
Volgens Amour Strydom, die bestuur- der van Huis le Roux, is Tannie Hettie in 1920 op die plaas Groenfontein buite Wellington gebore. Haar nooiensvan was Malan en sy was een van vyf kinders. Sy was op Agter-Groenfontein op skool.
Tannie Hettie het haar as ‘n haarkapster bekwaam en in die Paarl gewerk totdat sy in September 1945 met Wallie Walters getroud is.
‘n Koerantuitknipsel uit toentertyd kondig hul huwelik so aan: “In ‘n marinagroen tweestuk met deftige swart toebehore, was mej. Hester Malan van Groenfontein, Wellington, en tans van Kaapstad, ‘n aantreklike bruid toe sy met mnr. Hermanus Walters, ook van die stad, getroud is. Sy het ‘n ruiker van ligpers angeliere by haar tweestuk gedra.”
Die Walters-egpaar het hulle in 1958 op Robertson gevestig waar haar man op die department van landbou se proefplaas gewerk het. Hulle het ná sy aftrede dorp toe getrek. Hy is in 1993 oorlede. Tannie Hettie het tot op 88-jarige ouderdom in haar huis aangebly totdat sy in Augustus 2008 na Huis le Roux verhuis het, waar sy steeds woon.
Sy het twee dogters – Tertia Bruwer en Dalene Conradie – vyf kleinkinders en 13 agterkleinkinders.






