Die manne en vroue in blou van vyf omliggende polisiekantore in die Langeberg- munisipale gebied in samewerking met sekerheidsbeamptes en buurtwaglede het die afgelope naweek heelwat suksesse opgelewer in ’n geslaagde veiliger-feestyd-misdaadoptrede.
Kapt. Johannes Prins, sigbaarheidshoof, het die optrede gelei.
AO Suria Meyer, ’n polisiewoordvoerder, sê verskeie mense is in hegtenis geneem nadat deursoek-lasbriewe uitgevoer is. Volgens haar het die fokus op veral onwettige handel in drank en dwelms geval.
Die polisie het onder meer beslag gelê op tik sowel as Mandrax-tablette en -poeier, alles met ’n sluikhandelwaarde van R3 000.
Volgens Meyer is drie mans van onderskeidelik 44, 39 en 33 jaar vir die onwettige besit van dwelms in hegtenis geneem. Voorts is ’n 38-jarige man ook vir die besit van gevaarlike wapens aangekeer.
Alle dossiere is na die plaaslike landdroshof verwys. Meyer sê die veiliger-feestyd-misdaadoptrede gaan vir die duur van die feestyd gereeld gehou word.




