Talle gevalle van aanranding en roof was die afgelope week veral prominent in die vallei.

In twee afsonderlike gevalle is etlike inwoners erg getraumatiseerd gelaat nadat hulle binne sekondes die slagoffers van misdaad was.

In Rawsonville is die 32-jarige Lane Cupido verlede week deur drie mans enkele treë van sy huis af in Spokiesdorp oorrompel.

Cupido het Woensdagaand (8 Maart) omstreeks 20:00 na sy ouerhuis gestap nadat hy heeldag op ’n nabye plaas as parshulp gewerk het. Twee mans het om die draai gekom en hom oorrompel en ’n derde het van agter af gekom en hom van sy besittings beroof.

“Ek het net gestap en was moeg ná die lang dag wat ek gehad het. Ek was op my foon besig om vir my meisie ’n WhatsApp te stuur. Ek was seker amper tien treë van my huis af toe hulle kom en my aanrand. Die een het my geslaan en die ander een wou my met ’n ketting slaan. Ek het terugbaklei, maar dit het nie gehelp nie. Hulle het toe my foon gevat en die R260 kontant wat ek by my gehad het. Hulle het ook my sigarette geroof,” vertel hy aan Standard.

Hy het probeer roep om hulp, maar vertel dat die mans baie vinnig spore gemaak het nadat hulle sy besittings gevat het.

Hy is toe deur ’n familielid na die hospitaal gevat en is darem dadelik bygestaan met hulp.

“Ek het ook ’n saak oopgemaak, maar ek het die mans glad nie geken nie. Ek weet nie waarom hulle my sou teiken nie. Ek het nog nooit iets teenoor iemand gedoen om dit te verdien nie. Ek werk hard vir my geld en dit gaan reeds moeilik en dan maak mense dit nog moeiliker.”

In ’n afsonderlike voorval in Worcester wat ook verlede Woensdag plaasgevind het, is ’n man aangeval en met ’n mes gedreig deur vier ander persone wat hom ook op straat geteiken het.

Die man, wat nog erg geskok is ná die voorval, praat op voorwaarde van anonimiteit met Standard.

“Die mans is gereeld in die dorp en mense na aan my het hulle ook al gesien. Hulle is nog jonk en baie intimiderend.

“Ek het Woensdagmiddag geloop en was op pad om pille na my meisie toe te vat. Hulle het naby 9-to-5, die bekende nagklub, gesit en my dadelik oorrompel,” vertel die man aan Standard.

Hy vertel dat hy met hulle moes stoei en daarin kon slaag om weg te kom, maar dat sy meisie ook onlangs verby van die aanvallers geloop het.

“Die probleem is die jeug raak betrokke by bendes en dan wag hulle letterlik vir hulle prooi in die dorp. Almal is bewus van die probleem, maar hulle word nooit vasgetrek nie. Hulle is gevaarlik en is ook nie bang nie – hulle sal sommer weer op dieselfde plek gaan sit, rook en wag om iemand te takel.”

Hy het nog nie ’n saak by die polisie aanhangig gemaak nie.

“Ek het nog nie, maar ek wil graag. Ek het net nie hul identiteit of name of adresse nie en wil dit bymekaarmaak en dan ’n saak oopmaak.”

Die plaaslike polisie raai inwoners wat deur enige vorm van misdaad geraak word aan om dadelik ’n saak aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article