Die Sporting Stars FC vroue-sokkerspan voel hulle is vanjaar weens tegniese redes van deelname aan die nasionale kampioenskap in Knysna beroof.

Credit: SYSTEM

Die Sporting Stars FC vroue-sokkerspan van Worcester het onlangs in die kollig beland toe lede van dié sokkerspan, sowel as hul bestuur, die Wes-Kaapse Sasol-vroueliga in Knysna (5 November) bygewoon het.

Eusibio Fynn (voorstiter) en Aasif Witbooi (afrigter) het die saak reggestel en verduidelik dat die span nie deelgeneem het aan die liga nie, maar dit eerder as toeskouers bygewoon het weens die feit dat die spelers nie betyds was om op die Mysafa-portaal (Suid-Afrikaanse sokkervereniging-registrasiestelsel) te registreer nie.

Sokkerspelers in Suid-Afrika moet aan die begin van elke sokkerseisoen, en weer voor ’n groot liga, soos die Sasol-vroueliga, registreer op die Mysafa-webtuiste om sodoende die klubs en hul spelers te reguleer.

Die Sporting Stars vroue-sokkerspan het egter sy spelers suksesvol geregistreer aan die begin van 2022 se sokkerseisoen, waar hulle ook die plaaslike Kaapse Wynland-liga gewen het.

Nadat hulle deurgedring het na die nasionale kampioenskap in Knysna en weer verplig was om te registreer op Mysafa, het die span ’n doodloopstraat in die gesig gestaar.

Die Mysafa-portaal was weens ’n tegniese fout nie oop vir enige Kaapse-Wynland-span om te registreer nie, en as volg hiervan is die Sporting Stars van die kans beroof om in die nasionale toernooi mee te ding, sê Fynn.

Volgens Fynn en Witbooi het die bestuur van dié sokkerspan die Kaapse Wynland-tak van Mysafa reeds aan die begin van Augustus in kennis gestel van die fout, maar was teen einde Augustus steeds nie geholpe, en het as sodanig hul kans verbeur om te kompeteer.

Fynn en Witbooi verduidelik ook dat hierdie gebeurtenis geen fout van die klub was nie, en dat die Sporting Stars tot 2023 sal wag om weer te affilieer, soos dit jaarliks verpligtend is.

Op 2 November het die span uitgevind dat hy nie kan meeding in Knysna nie, maar het steeds gereis na die toernooi aangesien “alles reeds betaal was” en hulle die geld nie kon terugkry nie, sê Fynn en Witbooi.

Daar aangekom, was die reeds bitter Sporting Stars selfs méér so weens ’n afwyking van die Safa-reëlboek.

“Sommige junior spelers wat geregistreer het op Mysafa het hul geboortesertifikate gebruik as bewys van Suid-Afrikaanse burgerskap, in plaas van hul paspoort of identiteitsdokument soos die reëlboek stipuleer,” volgens Fynn.

“Dit het gelyk asof een gedeelte van die reels toegepas word, terwyl die ander gedeelte geïgnoreer word,” sê Fyn, wat verduidelik dat die reëls rondom die Mysafa-registrasies gehandhaaf is, maar nie die reëls rondom die paspoorte en identiteitsdokumente nie.

Sporting Stars het ’n saak aangegee hieroor by Mysafa Wes-Kaap, maar het die saak verloor weens die feit dat die sokkerspan nie aan die nasionale kampioenskappe deelgeneem het nie.

Volgens Fynn en Witbooi stipuleer die Safa-reëlboek egter nie dat die sokkerspan nie ’n saak mag open nie.

Sporting Stars gaan nie appèl teen die bevindings aanteken nie weens die koste daaraan verbonde.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article