’n Inwoner van Worcester wat ’n rolstoel gebruik en op ’n plaas net buite die dorp woon, is Woensdag 2 November rot en kaal besteel terwyl hy geslaap het.
Carl Greyling (56) het die betrokke Woensdagaand nog sy selgroep se weeklikse vergadering bygewoon en net ná 21:00 tuisgekom waar hy langs die Aan de Doorns-pad woon. Hy het iets gemaak om te eet en televisie gekyk voordat hy skuins ná 22:00 bed toe is.
“Ek het gaan slaap en later iets in die huis gehoor beweeg. Ek het aangeneem dit is my hond, omdat dit net ek en hy hier is. Ek het weer aan die slaap geraak.
“Toe ek later wakker word, was my selfoon weg en my wekker het nooit afgegaan nie. Ek verbeel my ek het figure in die kamer gesien en moes opstaan om net duidelikheid te kry. Dit was asof alles in ’n waas was. Toe ek in die kombuis kom en begin rondkyk, het ek gesien omtrent alles is weggedra,” vertel Greyling aan Standard.
Greyling, wat in die musiekbedryf werk, het dadelik gesien sy televisieskerm en albei selfone is weg. Dit was egter nie waar die booswigte gestop het nie.
“Ek het net vleis gekoop vir die maand, en dit is alles weggedra. My rekenaar, my klanktoerusting, die bedrading en selfs my kar- en huissleutels is gevat. Die deur was net op ’n skrefie oop en die diefwering was gebuig. Ek is dadelik uit om te kyk of my kar nog daar is, maar hy was meters weg van waar hy gewoonlik geparkeer is. Daarvoor is ek dankbaar.”
Greyling se motor is ingerig om te voldoen aan sy behoefte as ’n gestremde. Hy meen egter die diewe sou nie maklik die stelsel kon wys raak nie.
“Dit is ’n ingewikkelde stelsel. Jy moet jou storie ken, en hulle het duidelik nie. Hulle kon ’n entjie ry, maar het seker opgegee.”
Hy sê die plaasbestuurder het die oggend verby sy woning gery en gevra of alles nog reg is, waarna hy die bestuurder van die voorval vertel het.
“Toe moes ek kontak maak met my familie, ek moes die polisie in kennis stel en boonop nog tot verhaal kom. ’n Mens se kop speel soveel speletjies met jou en ek kry sulke terugflitse. Ek weet nie om te onderskei tussen die waarheid en wat gebeur het nie. Ek is dankbaar ek is veilig en ongedeerd, maar steeds boos oor die voorval. Ek weet nie of ek die misdadigers ooit in die oë sal kan kyk nie. Ek kan dalk net optree.”
Die polisie is ’n paar ure nadat Greyling die voorval aangemeld het na die plaas toe en die forensiese deskundiges sowel as speurders het eers Vrydag 4 November daar aangekom om die ondersoek van stapel te stuur.
Greyling het in Oktober vanjaar van versekeraar verwissel en die toekoms lyk nou onseker.
“Ek verstaan die polisie se hande is ook gebind, maar ek eis antwoorde. Ek het alles verloor en dit is onduidelik of die versekering gaan uitbetaal. Ek moet net vure doodslaan. Misdadigers het deesdae meer regte as wetsgehoorsames. Ek dink nou om te trek. Ek was nooit bang nie, maar nou is ek.”





