Die finalejaar- mediese student Thembani Maswanganye tydens ’n uitreik by die Steinthal- kinder- en jeug-sorgsentrum.Foto: Verskaf


’n Plakker op jou voorkop, eenbeentjie-spring of kans gee vir verwondering oor jou weggooibare handskoene – alles is ingespan om ’n unieke gesondheidsuitreik na kwesbare kinders vlot te laat verloop.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand sê dankie aan die studente van die Universiteit Stellenbosch se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe, wat hul praktiese ervaring in die Kaapse Wynland-omgewing doen, en aan ander vennote wat op 12 Augustus besoek afgelê het aan Steinthal-kinder- en jeug-sorgsentrum naby Tulbagh. Sowat 35 kinders se gesondheid is met die hulp van mentors, baie high fives en die uitdeel van mooi plakkers geëvalueer.

Die meeste van die kinders was in die ouderdomsgroep van twee tot ses jaar.

Die doel van die uitreik was om te bepaal of daar kinders is wat verdere ondersteuning benodig as dit kom by motoriese ontwikkeling, voeding, gehoor, spraak, sig en meer.

Die finalejaar- mediese student Thembani Maswanganye was by die stasie waar kinders se welstand oor die algemeen nagegaan is. Toe hy kans kry, het hy ook uitgehelp by die stasie waar spraak-evaluering gedoen is. Hy sê hoewel die besoek deel is van sy akademiese aktiwiteite, het hy dit baie geniet om iets te doen wat hy weet ’n verskil in ’n kwesbare gemeenskap maak.

“Om deel te wees van hierdie uitreik, het my diep geraak,” sê Carla Scholtz, ’n vierdejaarjaar- spraak-, taal- en gehoorterapie-student.

“Vir my het dit die groot nood aan dienste in sekere gemeenskappe uitgelig. Deur die gehoorsifting en spraakevaluerings te kon doen, het my die kans gegee om eerstehands te sien hoe belangrik vroeë identifisering is om die kind se kommunikasie-uitkomstes te verbeter. Ek is meer as ooit vasbeslote om die gapings in sorg en dienste te oorbrug en om te baklei vir mense wat andersins dalk nie gehoor sou word nie.”

Die Steinthal- kinder- en jeug-sorgsentrum se bestuur het vroeër navraag oor gesondheidsdienste aan die universiteit se afdeling vir landelike gesondheid (Ukwanda) gerig, aangesien die US gesondheidwetenskapstudente het wat in Worcester en Ceres geplaas is. Rolspelers het ontmoet en reëlings vir ’n spesiale uitreik getref.

“Ons werk nou saam met die personeel by Ukwanda om studente wat hul studies in gesondheidsorg en verwante velde doen, die geleentheid te gee om ervaring op te doen by klinieke, hospitale en meer. Hoewel Steinthal se kinders net soos ander mense in die gemeenskap by Tulbagh Kliniek ondersteun word, het ons die kans aangegryp om te kyk hoe ons verdere steun kan gee,” sê me. Madelein Bester van die departementele span wat die uitreik ondersteun het.

“Baie dankie aan die studente van Ukwanda, wat ingesluit het mediese studente, arbeidsterapie-, spraak-, taal- en gehoor-terapeute sowel as dieetkunde-studente,” sê Bester.

Elria Joubert van Ukwanda sê die uitreik was ’n unieke geleentheid om te kon saamwerk met kollegas van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand en ander gemeenskapsvennote “met wie ons jare lange verhoudings het”.

“Ons was oorweldig deur hul welwillendheid om op kort kennisgewing hul tyd en hulpbronne beskikbaar te maak en op ’n langer termyn by die Steinthal-kinder- en jeug-sorgsentrum betrokke te bly. Dit het nie net ’n geleentheid geskep om studente se leeruitkomste op ’n praktiese manier te bereik nie, maar ook hul harte te raak. Dit was ’n ervaring wat ons en ons studente altyd sal bybly.”

Die plaaslike gesondheidspan, insluitend die span wat dienste in die gemeenskap lewer, sal opvolg met die kinders soos deur die uitreikspan uitgewys is. In sommige gevalle het die kinders tandheelkundige dienste nodig, en in ander gevalle spraak- en oudiologiese dienste. Die verpleegkundige wat na skolegesondheid omsien, sal steeds elke kwartaal na Steinthal uitreik met ’n fokus op die uitdagings wat na vore gekom het, en skakeling met ander kenners doen. Waar moontlik sal Steinthal-personeel ook bemagtig word om die uitbreek van siektes te voorkom.

“Ons innige waardering aan mnr. Geweldt, Elria Joubert, Jana Müller, dr. Titus en personeel dat julle die dag moontlik gemaak het,” sê . Charmaine Prince, Steinthal se bestuurder, namens die organisasie. “Dit is net deur jul vriendelikheid en toewyding dat dié 35 kinders sorg en aandag gekry het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article