Met nog een ronde wedstryde oor in die T15-vlakkiekrieket-toernooi, wat tans gespeel word, keil klubs mekaar behoorlik op.
Altesaam 14 klubs neem tans in Worcester deel aan die toernooi wat al ‘n hele paar verrassings opgelewer het.
In groep A met sy sewe spanne is View Giants, Pro Eagles en Quickies die spanne om dop te hou, terwyl Pumas, wat tans nie sy beste krieket speel nie, mik vir die vierde plek om die kwart-eindronde te haal.
Groep B het tans nie ‘n span wat die pas aangee nie, met Aviators, Clovers A en Zazon wat om die eerste drie plekke baklei, terwyl Rising Stars en Very Dangerous hard sal spook om die vierde plek teen Young Stars, wat ook in die wedloop vir die uitspeelrondes is.
Die toernooi maak net voor Kersfees klaar. Die hoogtepunte is op 7 Desember wanneer die kwarteindstryde gespeel gaan word en die eindronde op 14 Desember. Avianpark sal vanjaar se eindstryd aanbied in wat beloof om ‘n wonderlike dag van vlakkiekrieket te wees om die jaar op ‘n goeie noot af te sluit.
Die volgende toernooi sal die Wêreldbekertoernooi wees in die vorm van ‘n liga, en sal op 11 Januarie 2026 begin. – Luciano du Toit




