Honderde duisende pensionarisse wag steeds op regstellings op hul pensioene.

Die Civil Servants Pension Redress Movement (CSPRM) het ‘n formele skrywe aan Suid-Afrikaanse politieke partye in die parlement gerig en dringende politieke ingryping versoek om die gesloer met betrekking tot pensioenregstelling vir gewese staatsamptenare te help bespoedig.

Die beweging is ‘n Suid-Afrikaanse organisasie sonder winsbejag, wat voorspraak maak vir voormalige en afgetrede staatsdienswerknemers wat onder pensioendiskriminasie tydens die Apart-heidsera gebuk gegaan het.

Die aangeleentheid spruit uit historiese pensioen-ongelykhede, wat tydens Suid-Afrika se demokratiese oorgang erken is.

Die Waarheids- en Versoeningskommissie het vroeër verskeie ongeregtighede geïdentifiseer wat reggestel moes word en vervolgens beleidsbesluite beïnvloed het, insluitend die Bedingingsraad se Resolusie 7 van 1998.

Stephen Sass, die nasionale president van die CSPRM, sê dis byna drie dekades later en duisende geraakte pensioentrekkers het nou nog nie die regstelling wat destyds beoog is, ontvang nie.

Volgens hom raak die situasie toenemend dringend aangesien die meeste van die geraakte begunstigdes nou bejaard is.

Sass sê: “Elke jaar sterf meer pensioentrekkers sonder om die geregtigheid te ervaar soos hulle belowe is.”

Praktiese oplossing

Volgens Sass het die CSPRM ‘n eenvoudige en praktiese oplossing voorgestel om die proses te versnel, wat behels die implementering van vastebedrag-pensioenregstellingsvoordele vir onderskeidelik manlike en vroulike pensioentrekkers, eerder as langdurige aktuariële berekeninge.

Hy sê die organisasie glo hierdie benadering sal die regering in staat stel om die program vinnig in te stel en toe te pas, terwyl regverdigheid en waardigheid vir die betrokke pensioentrekkers verseker word.

Volgens Sass versoek die CSPRM politieke partye om die morele en politieke verpligtinge wat uit die Waarheid- en versoeningsproses voortspruit, te erken en die dringende afhandeling van die pensioenregstellingsprogram te ondersteun.

“Dit is nie bloot ‘n administratiewe aangeleentheid nie. Dit is deel van die onafgehandelde werk van geregtigheid en versoening in Suid-Afrika.”

Die CSPRM sê by monde van Sass hy sien daarna uit om met politieke partye en die regering in gesprek te tree om ‘n praktiese en menswaardige oplossing vir hierdie saak te vind.

Volgens David Jantjies, die CSPRM se nasionale adjunk-hoofsekretaris, veg die organisasie reeds sedert 23 Mei 2019 vir pensioenregstelling na aanleiding van die Bedingingsraad se Resolusie 7 van 1998.

Hy sê teen 2019 was daar meer as 450 000 pensioentrekkers en afhanklikes op die staatsamptenare se pensioenfonds se boeke.

Volgens hom het slegs 54 000 van hulle tot dusver pensioenregstellings ontvang.

Nagenoeg 400 000 pensioenarisse wag nog.

Jantjies sê die staatsdiensamptenare se pensioenfonds is R2,69 triljoen sterk.

Volgens hom is dit die sterkste pensioenfonds in Afrika en agtste in die wêreld.

“Ons (CSPRM) het sopas teruggekeer vanaf ‘n nasionale vergadering in Kimberley en die begunstigdes is woedend oor die pensioenregstellings wat so sloer.” – Enrico Claassen

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article