Worcester ontvang eersdaags tydens ’n belangrike vergadering hier besoek van Stephen Sass, die nasionale voorsitter van die Civil Servants Pension Redress Movement (CSPRM).

Hierdie besoek aan die Boland volg slegs twee weke nadat die CSPRM regstreeks met die Staatsdienspensioenfonds (GEPF) begin onderhandel het.

Die kern van die onderhandelings is die gewraakte pensioenregstellingsprogram, wat derduisende voormalige staatsdienswerkers uitgesluit het toe die GEPF altesaam R8,704 miljard gebruik het om groot bedrae aan net sowat 54 000 pensioentrekkers in Suid-Afrika uit te betaal.

“Na aanleiding van ’n resolusie, wat in 1998 deur die Bedingingsraad aanvaar is, was hierdie bedrag veronderstel om alle voormalige staatsdienswerkers teen wie op grond van ras en geslag gediskrimineer is, te bevoordeel,” sê Pat Horn, die Worcesterse tussentydse takvoorsitter van die CSPRM.

“Die CSPRM wil hê die pensioenregstellingsprogram moet heropen word sodat diegene wat oor die hoof gesien is, wel ’n uitbetaling ontvang,” vervolg hy. “Die nasionale bestuur van die CSPRM het daarin geslaag om die GEPF na die onderhandelingstafel te lok om hierdie saak onder die loep te neem.”

Die GEPF het ongeveer 1,2 miljoen werkende lede en feitlik 500 000 pensioentrekkers en begunstigdes.

“Die CSPRM is nog net drie jaar op die been, dog pronk die beweging reeds met ’n hardwerkende nasionale bestuur sowel as provinsiale en takstrukture oor die land heen sowel as in Namibië. Voormalige staatsdiensamptenare besef lidmaatskap van die CSPRM kan hulle nader aan hul doelwit bring. Mense sluit dus ook hier in Worcester in hordes by die organisasie aan,” aldus Horn.

Die Worcester-tak kies Vrydag (25 November) sy eerste volwaardige uitvoerende bestuurspan op ’n massavergadering om 10:00 in die RK-saal in Parkerstraat. Affiliasievorms sal vir nuwe lede beskikbaar wees.

Horn sluit af: “Ons is bevoorreg om ons nasionale voorsitter te kon kry om ons oor kraakvars nuus toe te spreek. Dus word alle staatsdienswerkers uit alle voormalige staatsdepartemente, wat tydens die vorige politieke bestel erge ras-en-geslagsdiskriminasie ervaar het, na hierdie vergadering uitgenooi.”. Bel Horn by 082 775 9249 of David Jantjies by 082 697 2777 vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article