‘Meld probleme by openbare badkamers aan’ vra munisipaliteit

‘n Skoonmaker maak die openbare badkamer langs die munisipaliteit in Worcester skoon.

Dit stink en dis ‘n skande dat besoekers aan ons dorp dié badkamers só moet sien.

Dít is van die klagtes wat die Standard Breederivier Gazette oor die openbare badkamers in Worcester van inwoners ontvang het.

Besoekers aan die middedorp is dikwels afhanklik van hierdie badkamers wanneer hulle ‘n lang tyd in die dorp deurbring. Ongelukkig, sê inwoners, hang dwelmverslaafdes ook daar uit en dit laat besoekers onveilig voel.

Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) het by navraag gesê ‘n diensverskaffer is gekontrakteer om na die badkamers om te sien. Dit sluit voltydse personeellede in wat vir elke badkamer aangestel is om dit skoon te hou. Die kontrakteur is verantwoordelik om drie badkamers in die dorp in stand te hou, naamlik in Hoogstraat, Le Suerstraat en Greystraat.

“ ’n Toegewyde span van ses personeel- lede verseker dat dit daagliks van 08:00 tot 17:00, ook oor naweke, skoon gehou word. Die BVM inspekteer dit gereeld om seker te maak dat dit skoon is,” sê Hannelie Botha, ‘n woordvoerder van die munisipaliteit.

Veiligheid bly egter ‘n uitdaging. “Klagtes dat die badkamers vir onwettige aktiwiteite gebruik word, soos dwelmgebruik en vandalisme, is aangemeld. Lede van die publiek het ook van die pype gebreek om water te kry om voertuie mee te was. Om hierdie probleme die hoof te bied, is die kontrakteur se personeel gevra om sulke voorvalle onmiddellik aan te meld, sodat ons ‘n veilige en toegangklike omgewing vir inwoners kan skep. Wetstoepassers word ook ingeroep wanneer onwettige aktiwiteite plaasvind of wanneer moeilikheidmakers verhoed dat die publiek hierdie badkamers kan gebruik,” sê Botha.”

Die BVM het inwoners aangemoedig om enige probleme aan te meld sodat die badkamers doeltreffend in stand gehou kan word.

• ’n Skoonmaker het die badkamer langs die munisipaliteit met Standard Breederivier Gazette se besoek skoongemaak. Dit het netjies gelyk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article