Die sonkrag-plaas in Touwsrivier.Foto: Verskaf/ Daily Maverick

Credit: SYSTEM

Touwsrivier, ’n verlate dorp sowat 40 km van De Doorns waar die nagevolge van werkloosheid en armoede hard teen die stilte van die Karoo skree, ervaar ietwat verligting noudat ’n sonkrag- en ’n hidroponiese plaas werksgeleenthede in dié dorp skep.

Die Pele Energy Group, ’n organisasie met verskeie projekte in Afrika, het ’n 35%- aandeel in ’n sonkragaanleg gekoop met die hulp van Investec, en met ’n verdere R5 miljoen se finansiering ook ’n hidroponiese-plaas gestig wat blaarslaai oes.

Hierdie projekte verskaf werk aan ’n groot groep Touwsrivier-inwoners en gee die 85% van inwoners wat voorheen geen inkomste ontvang het nie ’n finansiële hupstoot, volgens ’n Daily Maverick-artikel van 11 Julie, geskryf deur Investec.

Sonkragaanleg

Die hernubare energie- onafhanklike kragprodusent-verkrygingsprogram se sonkragaanleg is reeds in 2011 ontwikkel en verskaf sedert 2015 krag aan Eskom. Dit is ook een van die grootse sonkragaanlegte in die wêreld, aldus die artikel.

Pele Green Energy is ’n tak van die Pele Energy Group wat armer gemeenskappe finansieel bystaan en toerus met werkskepping en aandele in die sonkragaanleg koop om onder meer werkskepping in Touwsrivier te bewerkstellig en is deur Investec gefinansier.

Met 35% van die aandele in die sonkragaanleg beteken dit dat Pele Green Energy die aanleg verder kan ontwikkel en werkskepping in die dorp kan verhoog.

Touwsrivier kommersiële hidroponika-plaas

Aangesien werk by die sonkragaanleg nie permanent is nie en ná 20 jaar minder personeel sal verg omdat die sonpanele nie streng gemonitor hoef te word nie, het Knowledge Pele vir Investec genader vir verdere finansiering van R5 miljoen om ’n hidroponiese-plaas tot stand te bring, berig Daily Maverick.



Die projek, die Touwsrivier kommersiële hidroponika-plaas, het in 2021 ontstaan, volgens Margaret Arnold van Investec se ondernemings- en jeugontwikkelingsprogram.

“Werksgeleenthede vir mense in afgeleë dorpe is baie min en vir die gemeenskap van Touwsrivier is dit ook so. Die meeste inwoners leef onder die broodlyn en daarom moet kommersiële bates gebruik word as katalisators vir ontwikkeling in sulke gemeenskappe,” het Arnold verduidelik.

“Aangesien Touwsrivier die tuiste van een van die grootste sonkrag CPV-aanlegte ter wêreld is, het die geleentheid vir verdere belegging in die gemeenskap, en spesifiek die jeug, ’n geleentheid gebied om nie net volhoubare inisiatiewe in die dorp verder te fasiliteer nie, maar dit te gebruik om die jeug op te lei.”

Op die oomblik skep die plaas vir meer as 20 inwoners tussen die ouderdom van 18 en 35 jaar permanente werk.

Volgens Arnold word die hidroponiese plaas gesamentlik besit deur Knowledge Pele en die Touwsrivier Solar Community Trust, met die gemeenskap wat 50% van die ekwiteit besit.

“Hierdie struktuur gee ’n aansienlike maatskaplike opbrengs op belegging vir die gemeenskap, sowel as finansiële inkomste,” het Arnold per e-pos gesê.

Volgens Daily Maverick produseer die plaas meer as 4 000 kg blaarslaai per maand met ooreenkomste met kleinhandelaars wat die blaarslaai aankoop.

Daar is ook planne in die pyplyn om nog tonnels op te rig wat die produksie sal verdubbel en ook meer werk sal skep.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article