Vanjaar se korefees, waaraan kerkkore van die Verenigende Gereformeerde-gemeentes Worcester-Suid, Worcester-Oos en Worcester asook die kerkkore van AME Sion, AME Bethesda en die Emanuel Congregation-kerk die afgelope Sondag (9 November) in die stadsaal deelgeneem het, het soos die vorige twee jaar weer puik sang opgelewer.

Boonop is vanjaar se program verder opgekikker met skitterende solosang, duets en klavierspel van uitstaande gehalte, wat dit gewis die moeite werd gemaak het om jou Sondagmiddagslapie in te boet.

Die Achored Voices van die Paarl, die Variati Chamber Choir en die gewilde Crusaders-Kersfeeskoor se deelname het verder kleur aan die goedbeplande sangfees verleen.

Boopnop was daar ook items op die program waar die gehoor lekker kon saamsing om die dag op ‘n hoogtepunt af te sluit.

Die dirigente van die dag was Rhona Ruiters van VGK Worcester-Oos, Juliana van Wyk van AME Sion, Charles Springveldt van die Emanuel Congregational-gemeente en Desiree Cupido van die VGK Worcester, terwyl Penelope Jacobs, Marlene Lange en dr. Chadwin Phillips vir die klavierbegeleiding verantwoordelik was.

Die bariton Desmond Andrews met sy vertolking van “I walk with God” en “Just trust in God”, die oud-Worceste- riet Nigel Sefoor met sy vertolking van “To God be the glory” asook sy duet met vroulief Ellouise van “The Prayer” het groot applous van die gehoor uitgelok.

As solis het die gewilde Natalie Arendse weer haar Godgegewe talent uitgeleef met haar weergawe van die operalied “La Vergine” terwyl sy ook saam met Lenadia Crotz die duet “I waited for the Lord” gesing het. Ook Jucinda Wehr en Jessica August, as duetpaar in die aanbieding van “Halleluja for the Cross” saam met die gesamentlike massakoor, het groot byval gevind.

Algeheel is alles net perfek gereël en mense sien reeds uit na die volgende aanbieding van Worcester se Korefees in 2026. – Alver Uys

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article