Vier verdagtes is Maandagoggend by die vulstasie op die N1 by De Doorns ná ’n jaagtog uit Touwsrivier in hegtenis geneem.

Volgens die Touwsrivier-polisie se stasiebevelvoerder, kapt. Hermanus Smith, het die verdagtes omstreeks 01:00 Maandag by ’n woonstel ingebreek en die inwoners van ’n groot bedrag geld beroof.

“Hulle is by die woonstel in en het die inwoners van geld beroof. Die mense het probeer om hulle agterna te sit en ons gebel toe hulle sien die twee voertuie ry uit by die dorp en draai regs op die N1, in die rigting van De Doorns,” het Smith verduidelik.

Hy het verder gesê die inwoners van die woonstel is die eienaars van ’n aantal klein ondernemings (winkeltjies) in Touwsrivier.

Hulle is buitelanders.

Lede van die Touwsrivier-polisie het die verdagtes agternagesit. ’n Oor-en-weer-skietery het by die vulstasie, waar die polisie die verdagtes ingehaal het, tussen die polisie en die verdagtes uitgebreek.

“Een van die verdagtes het by die vulstasie uit die motor gespring, ’n sak met geld neergegooi en probeer weghardloop.”

Volgens Smith beweer die inwoners wat beroof is dat tien mense by die rooftog betrokke was. Altesaam R200 000 is blykbaar gesteel.

“Ek kan nie met sekerheid sê of dit tien verdagtes was en of dit werklik R200 000 is wat gesteel is nie. Ons het wel R96 600 van die geld op die toneel by die vulstasie teruggekry, dus vermoed ek die ander geld was in die ander motor met die ander ses verdagtes wat weggery het,” het Smith gesê.

Een van die vermeende rowers is in die oor-en-weer-skietery raakgeskiet en drie ander is saam met hom in hegtenis geneem.

“Hy is gewond, maar is reeds uit die hospitaal ontslaan en sal oukei wees.”

Al vier die verdagtes wat in hegtenis geneem is, word van gewapende huisroof aangekla.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article