Julio Daniels sal volgende week sy hoërskoolloopbaan begin en aan die Hoërskool Somerset in Worcester as ’n gr. 8-leerder inval.Foto’s: Jana Scheepers


Die nuwe skooljaar begin binnekort, en dit beteken ook dat skryfbehoeftes en skoolklere blitsig aangeskaf moet word terwyl ouers net kan kyk hoe ver hulle hul bankkaarte dié maand nog kan strek.

’n Basiese somerskooluniform vir graadeentjies en graad-agt-leerders wat nou hoërskool toe gaan, bestaan uit ’n hemp, broek of romp, ’n trui, een paar wit sokkies, ’n paar skoene en ’n rugsak.

Die pryse vir hierdie items wissel van R19 (juniors) tot R60 (seniors) vir ’n wit kortmouhemp by Pep of Ackermans, ’n romp kos R22 (juniors) tot R130 (seniors), en ’n kortbroek R80 (juniors) tot R130 (seniors). Truie kos sowat R70 (juniors) tot R100 (seniors), ook by Pep of Ackermans. Twee paar wit sokkies kos R35, of R75 vir ’n pak van vyf.

Skoolskoene vir seuns sal sy ouers tussen R50 en R130 (vir gr. 1-leerders) en R100 tot R310 (gr. 8-leerders) uit die sak jaag, terwyl dié vir meisies R50 tot R320 (gr. 1) en R260 tot R350 vir gr. 8-leerders kos.

’n Basiese rugsak kos tussen R70 en R220 by Pep of Ackermans.

Buiten die basiese romp of kortbroek met ’n kortmouhemp en wit sokkies, vereis sekere skole ook kentekens op hemde en truie, wat net by private klerebanke beskikbaar is en dikwels tot dubbel die prys van ander skoolklere kos.

’n Groot uitgawe vir ouers wie se kinders hul hoërskoolloopbaan begin, is ’n kleurbaadjie, wat R500 of meer by Woolworths of selfs nog meer by klerebanke kos.

Ouers kan hulle dus regmaak om nagenoeg R2 000 op te dok vir ’n basiese skooluniform bestaande uit vyf hemde en kortbroeke of rompies, twee truie, vyf pare sokkies, een paar skoene, een rugsak en ’n kleurbaadjie.

Ander skoolkleredrag sluit ook sportdrag in, wat dié bedrag veel verder kan opstoot.

’n Peperduur addisionele uitgawe is dié van skryfbehoeftes, wat ook ’n ouer se sak kan ruk.

’n Basiese skryfbehoeftelys by Pep of Ackermans vir gr. 1-leerders sluit ’n potloodsakkie in (R20), een pakkie uitdraai-kryte (R33 tot R35), ’n buisie gom (R20 tot R35), ’n pakkie HB-potlode (R13 tot R20), ’n skerpmaker (R10 tot R13), ’n uitveër (R4 tot R5), ’n skêr (R13 tot R15) en ’n 30-blad flip file (R20 tot R25). Leerders benodig dikwels ook meer as een van ’n sekere produk, wat die kostes kan verdubbel of selfs verdriedubbel.

Gr. 8-leerders loop 11 vakke, en buiten basiese skryfbehoeftes soos potlode (R13 tot R20), ’n skerpmaker (R10 tot R13), uitveër (R4 tot R5), penne (R18 tot R25), ’n liniaal (R3 tot R10), gom (R20 tot R35), ’n skêr (R13 tot R15) en vier glimpenne (R20), verg elke vak gemiddeld een A4-sagtebandboek met 72 blaaie (R8 tot R9), en een flip file met 20 sakkies (R14 tot R16). Vakke soos wiskunde en kuns of musiek benodig ook dikwels ander skryfbehoeftes soos ’n wetenskaplike sakrekenaar, wat tot R300 kan kos, of kunspotlode en musiekboeke, wat baie duur uitwerk.

Hierdie lys bring die algehele koste van skryfbehoeftes vir graadeentjies tot minstens R133, en vir gr. 8-leerders kan dit tot R343 buiten die addisionele skryfbehoeftes kos.

’n Jaar of twee gelede, oftewel voor die pandemie, soos baie ander kostevergelykings gemaak word, was hierdie pryse ietwat laer, maar weens inflasie, ’n veranderende ekonomie sowel as stygende brandstofpryse en beurtkragprobleme kan ouers hulle op nog vele stygings in skoolklere en skryfbehoeftes voorberei.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article