Is jy bekommerd die hoërskoolleerders wat jy ken, word teruggehou as gevolg van al die onderrigonderbrekings die afgelope twee jaar? Dis nie te laat vir hulle om in te haal en vir beter eksamenuitslae voor te berei nie. En dit kos nie ’n sent nie.

’n Program wat gesamentlik deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) en die Universiteit Stellenbosch aangebied word, genaamd die Telematiese Skoleprojek (TSP), brei aanlyn leerondersteuning uit vir leerders in grade 10 tot 12 in skole van die Departement Basiese Onderwys. Die inhoud word in Engels en Afrikaans aangebied. Dit is gratis om hiervoor te registreer en benodig verder geen data nie.

Al wat leerders hoef te doen om toegang tot die kursuswerk in 18 vakke te kry – van tale (English, Afrikaans en isiXhosa) tot wiskunde, fisiese wetenskappe, rekeningkunde, geskiedenis, geografie en meer – is om op die Telematiese Skoleprojek se webblad te registreer. Al wat nodig is, is ’n persoonlike e-posadres. Jy het nie data hiervoor nodig nie.

Nadat hulle geregistreer het, kry leerders onmiddellik toegang tot regstreeks uitgesaaide aanlyn onderrig of, as dit geriefliker is, tot opgeneemde weergawes van die lesse waardeur hulle op hul eie tyd en teen hul eie tempo kan werk. Hulle kan so gereeld as wat hulle wil terugkeer totdat hulle voel hulle is vertroud met die werk.

Hulle kry ook toegang tot al die video’s van lesse, werkboeke, hersieningsprogramme en opsommings van kursusinhoud, insluitend ander materiaal soos infografika, asook oefenvraestelle om hulle te help om al die onderrig- en leertyd wat sedert 2020 verloor is, in te haal.

Gehalteversekering van die inhoud word deur senior kurrikulumbeplanners van die WKOD gedoen. Die stelsel is oop vir alle leerders in grade 10 tot 12 oor die land heen.

Aanlyn toegang kan ook via Facebook verkry word, maar gebruikers het dan hulle eie data nodig.

Die TSP verskaf ook aan geregistreerde gebruikers toegang tot lewensvaardighede-werksessies.

V Vind meer uit by www.schools.sun.ac.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article