Is jy altyd voor in die koor? Kan jy jou sê so koel soos ‘n komkommer sê? Dan is die splinternuwe redenaars- kompetisie Nou praat jy! net vir jou bedoel.

Die Hoërskool Curro Durbanville nooi met trots hoërskole reg oor die land om hul mees gesoute span vir ‘n toonaangewende kompetisie met ‘n kinkel in te skryf – twee leerders moet saamspan en die toespraak as ‘n eenheid aanbied. Die tema is Afrikaans, ‘n taal van kleure en klank – en dis heel gepas omdat Afrikaans vanjaar 100 jaar lank ‘n amptelike landstaal is.

Die bekgeveg kan oorredend, vermaaklik of motiverend aangebied word en is oop vir Afrikaans-huistaalsprekers én Afrikaans-eerste-addisionele-taal-sprekers in ‘n afdeling vir juniors (gr. 8 en/of gr. 9) en seniors (gr. 10 tot gr. 12). Elke span het vyf tot sewe minute om ‘n klip in die bos te gooi en die beoordelaars lek veral hul lippe af vir ‘n spontane wisselwerking tussen sprekers.

“Ons sien uit na ‘n lekker geselstrant,” sê die Afrikaansonderwysers Joline de Klerk en Maritsa Smit.

“Meer nog – ons hou styf duim vas dat spanne streekstaal en dialekte van Afrikaans verhoog toe bring. Ons hoop hulle kom praat soos hulle by die huis praat.”

Die gekonfytste onder die mededingers kan uitsien na stewige geldpryse: Die wenskole en wenners kry R10 000 elk, die naaswenners kry R6 000 elk en die derdeplekwenners kry R4 000 elk.

Die kompetisie vind op 25 en 26 Junie by die Hoërskool Curro Durbanville plaas. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 24 April. Inskrywingsvorms is aanlyn op die skool se webtuiste beskikbaar. Stuur e-pos aan Joline de Klerk by joline.d@curro.co.za vir nog besonderhede.

Komaan, sit die bal aan die rol!

Nou praat jy! is deel van die Hoërskool Curro Durbanville se nuwe

Kultura-fees, wat van 20 tot 27 Junie op die skool se kampus aangebied word. Buiten produksies van geliefde kunstenaars soos Sandra Prinsloo, Marion Holm, Francois van Coke, Barry Hilton en Early B, gaan hoërskool-bands ook die kans kry om die kitaar te slaan.

Omdat al hierdie dinge juis in Durbanville plaasvind, word ‘n Wynfees aangebied sodat die wynplase van die omgewing met hul wyne kan spog en die gemeenskap ook dié kultuurbydrae saam kan geniet.

Besoek Quicket.co.za vir kaartjies.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article