‘n Tweede pa; ‘n legende.
Dít is die woorde waarmee die nuus van Basie Delport, ‘n oud-onderwyser by HTS Drostdy, se afsterwe begroet is.
Die 80-jarige Delport was dekades lank ‘n pas-en-draai-onderwyser by die skool en ook ‘n rugby-afrigter buite skoolverband. Hy het ook die Bolandse Cravenweekspan, die SA Akademiespan en Rawsonville se eerste span afgerig.
Sy seun, Dirk, vertel sy pa het ‘n besondere manier gehad het om met mense te werk. “Hy kon die beste uit die mense om hom bring en het duisende mense oor sy leeftyd heen gehelp.”
Boodskappe van medelye en herinneringe aan die invloed wat Delport op hul lewens gehad het, het op sosiale media ingestroom.
Hoewel hy afgetree was, het hy gereeld by die skool gaan kuier en handjie bygesit.
“Oom Basie Delport was ‘n legende by HTS Drostdy en hy was baie geliefd,” het Louis Steijn, die hoof van HTS Drostdy, gesê. “Hy is in die vroeë 1970’s as onderwyser by die skool aangestel en het vir jare pas-en-draai-werk as vak aangebied. Hy het werklik meer as die ekstra myl vir die kinders by die skool gestap. Albei sy broers – Oom Hansie en Oom Hennie – het saam met hom by die skool as onderwysers gewerk. Oom Basie was ‘n fantastiese rugbyafrigter en het lank Die Boland-Cravenweekspan afgerig. Hy was ook ‘n kranige atletiekafrigter waarin sy eie kinders, wat ook Donkies was, presteer het. Hy het ‘n uitsonderlike geheue gehad. Hy het elke kind in die skool se naam geken en sommer dié van hul ouers ook.
“Ná sy aftrede het hy gereeld kom kuier met sy boek met rugbytellings by hom. Dan het hy almal kom groet en staaltjies uitgeruil en vertel hoe trots hy op sy eie kinders se prestasies ná skool is. Hy was in hart en siel ‘n trotse Donkie en ons sal hom baie mis.”
Delport, wat 60 jaar lank in Worcester gewoon het, het die afgelope ruk in ‘n tehuis in Belville gewoon, waar hy Sondag (27 Julie) oorlede is. Hy laat sy kinders Dirk, Pieter en Francis Delport agter.
‘n Troosdiens word op Vrydag 22 Augustus om 12:00 by die NG-gemeente Worcester Vallei gehou.




