Skool in Montagu hernoem na skoolhoof wat meer as 30 jaar aan die stuur was

Nigel Adams (middel), die hoof van die W.P Theys Primêre Skool in Montagu, saam met sy personeellede. Een van hulle hou ‘n foto vas van W.P Theys, na wie die skool onlangs hernoem is.

Die naamsverandering van ‘n laerskool in Montagu het opslae gemaak nadat van die ouers beweer het dat hulle nie in die saak geken is nie.

Die W.A. Rossouw Primêre Skool in Montagu se naamsverandering is onlangs deur die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) goedgekeur en sal voortaan as die W.P Theys Primêre Skool bekendstaan.

Volgens Millicent Merton, ‘n woordvoerder van die WKOD, was W.P. Theys meer as 30 jaar lank hoof by dié skool. Op die skool se 90ste verjaardagviering het sy 97-jarige dogter vertel hoe haar pa die skool in Langstraat in 1924 begin het.

“Sy het vertel hoe die skool onder apartheidswetgewing verskuif is na die nuwe gebou, toe sy self in Sub A [gr.1] was. Mnr. Theys het die seuns en meisies gemobiliseer om klippe van verskillende groottes aan te dra om die nuwe skool van die grond af op te bou,” het Merton gesê.

“Dit het tot gesprekke in die personeelkamer, in saalbyeenkomste en ouervergaderings gelei en die beheerliggaam het besluit om Mnr. Theys se nalatenskap te eer,” het sy gesê.

Dié naamsverandering was sedert 2022 ‘n punt op die agenda op ouervergaderings. Briewe is ook uitgestuur na skole, rugbyklubs, kerke, ouetehuise en individue.

“Die skool het oorweldigend positiewe terugvoering ontvang,” het Merton gesê.

Die WKOD het daarna die beheerliggaam se versoek vir ‘n naamsverandering goedgekeur.

Die skoolhoof, Nigel Adams, het ‘n dankbetuiging wat oud-kollegas in 1956 aan Theys voorgelees het met sy aftrede met Standard gedeel. Hulle het sy lof besing en harde werk om die skool van die aanvanklike tweemanskool uit te brei.

Dit is vanjaar Adams se agtste jaar as hoof by dié skool. “Ek het nie vir W.P Theys geken nie, maar sy dogter, Shiela Stevens, was my klavierjuffie. Haar man, R.G Stevens, was die skoolhoof, ‘n baie streng man.”

Sover as wat Standard kon vasstel was W.A Rossouw, na wie die skool aanvanklik vernoem was, ‘n blanke dominee wat ‘n gemeente in Montagu bedien het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article