Michayl Sederick Plaatjies se lyk is Vrydag gevind.

Credit: SYSTEM

Ná ’n twee weke lange soektog na Michayl Sederick Plaatjies is sy lyk verlede Vrydag opgespoor.

Die kleuter het Sondag 10 September in die Agterkliphoogte-gebied by Robertson vermis geraak. Sedertdien is uitgebreide soektogte na die kind deur die polisie, die honde-eenheid en die brandweer na hom van stapel gestuur. Dit het egter niks opgelewer tot Vrydag nie.

Dit is in hierdie stadium nog onduidelik waar presies die liggaam gekry is, hoe laat, of wie presies die lyk ontdek het. Dit is ook nog nie bevestig wanneer klein Sederick oorlede is nie.

“Ons kan bevestig dat die liggaam van die vermiste 24 maande oue kleuter Vrydag in ’n geïntegreerde, uitgebreide soektog in die omgewing rondom Agterkliphoogte in Robertson gevind is.

“Die soektog het bestaan uit verskeie gespesialiseerde eenhede van die polisie, insluitend die K9-soek-en- reddingsdienste, die berede eenheid, WPDS en ander eweknieë soos metro-soek-en-reddingsdienste en ander. Die omstandighede van sy verdwyning word nog ondersoek,” het lt.kol. Malcolm Pojie, ’n provinsiale woordvoerder van die polisie, gesê.

Die kleuter was ten tyde van sy verdwyning saam met sy pa, wat sedertdien weens kinderverlating in hegtenis geneem is. Dit is in hierdie stadium nog onduidelik of enige verdere klagtes teen die pa ondersoek sal word en of die polisie na verdagtes soek nie.

Volgens gerugte het die pa sedert sy inhegtenisneming nog met niemand gepraat oor wat presies daardie noodlottige Sondag gebeur het nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article