Die Tulbagh-polisie se soektog na Elzane Diedericks se moordenaar duur steeds voort. Diedericks was vir drie weke vermis voordat haar lyk gevind is.

Diedericks se ontbinde liggaam is op Valentynsdag om 08:00 deur ’n verbyganger onder ’n stormwaterbrug in Stasieweg ontdek.

“ ’n Man was op pad werk toe toe hy ’n vreemde reuk opmerk en dit volg. Hy het die 27-jarige vrou se lyk onder die brug ontdek,” verduidelik ’n woordvoerder van die Tulbagh-polisie.

“Haar familie het haar Dinsdag 25 Januarie by die polisie as vermis aangemeld. Volgens inligting het een van haar familielede haar op 22 Januarie nog in die dorp gesien.”

Die polisie kan egter nie sê hoe lank Diedericks se lyk daar gelê het nie. Hulle kan ook nog nie in hierdie stadium sê wat die oorsaak van haar dood was nie, omdat die lyk in ’n gevorderde stadium van ontbinding was, en wag dus op forensiese uitslae.

“Weens natuurelemente is dit moeilik om te sê hoe lank sy daar gelê het. Die hitte wat ons onlangs ervaar het, kan ook ’n grot rol speel in die ontbinding van ’n lyk,” verduidelik die woordvoerder.

Die woordvoerder sê egter gerugte dat Diedericks se suster ’n paar jaar vroeër op dieselfde plek gevind is, is onwaar.

“Ek dink mense het die kat aan die stert beet. ’n Seun is wel onlangs vermoor en sy lyk is nie te ver van waar Elzane se lyk was, gevind nie.”

Volgens die polisie is hulle baie seker dat die liggaam dié van Diedericks is, maar hulle wag op DNS-toetse se uitslae om dit te bevestig.

Niemand is nog weens die moord op Diedericks in hegtenis geneem nie.. Volgens die polisie is die ondersoek tans in ’n sensitiewe stadium. Mense met inligting wat die polisie kan help, kan met die ondersoekbeampte, speursersant Marlon Cupido, by 023 230 8100 in verbinding tree.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article