Martha Fredericks se lyk is halflyf onder ‘n bed in haar huis aangetref.

‘n Man het Sondagaand (1 Maart) ‘n gru-vonds gemaak toe hy op sy ma se lyk – wat halfpad onder ‘n bed versteek was – afgekom het.

Die oorledene, Martha Fredericks (64), het ten tyde van haar dood alleen in haar woning op die Rainbow-plase langs die Robertsonpad in die Overhex-distrik gewoon.

Volgens Fredericks se hartseer niggie Maryna Fredericks (33) het Martha se skoonma, Francina Fredericks (87), wat langs die oorledene op dieselfde plaas woon, Saterdag-laatmiddag (28 Februarie) bekommerd begin raak omdat hulle Martha die betrokke dag nog nie met ‘n oog gesien het nie.

Maryna vertel dat toe haar oom Loewie Fredericks Sondagoggend vir Martha kom haal het vir kerk, was haar voordeur gesluit.

Sy sê omdat die sleutel nie in die sleutelgat was nie en al die vensters toe was, was Loewie onder die indruk Martha is reeds kerk toe.

Maryna sê Sondagaand omstreeks tienuur het Martha se seun, Eugene (40), wat op dieselfde plaas woon, na sy ma se huis toe afgesit om na haar te gaan soek.

Kombuisdeur was oopgesluit

Volgens haar het Eugene via die kombuisdeur wat oopgesluit was toegang tot die huis verkry.

Sy sê Eugene het paniekerig begin raak toe hy sien sy ma se woning is erg omgedolwe.

Volgens Maryna het Eugene sy ma op haar maag met haar hande agter haar rug op die vloer in die spaarkamer aangetref.

Sy sê haar tante se bolyf was halfpad onder die bed versteek en dat haar een hand blou was.

“Ons het gedink sy het dalk ‘n hartaanval gehad. Die polisie het aan ons bevestig sy is aangerand.

“Hulle [die polisie] wou nie hê ons moes na die liggaam kyk nie omdat haar gesig erg geskend was.”

Volgens Maryna was daar geen teken(s) van gedwonge toegang tot die huis nie. Sy sê in hierdie stadium word net Martha se handsak uit die huis vermis.

Volgens haar vermoed die familie Martha is Saterdagaand vermoor.

Geen vyande

Maryna sê Martha het geen vyande gehad nie en sy sou ook nooit ‘n vreemdeling in haar huis toelaat nie.

Sy beskryf haar tante as ‘n vrolike mens wat kon lag “tot sy op die grond lê”. Volgens haar was Martha ‘n kerkvrou.

Martha se man het haar jare gelede reeds ontval.

AO Vathiswa Jacobs, ‘n polisiewoordvoerder, sê daar was bloed aan die oorledene se mond en wurgmerke aan haar nek.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

‘n Moord-dossier is by die polisie geregistreer. Enigeen met inligting wat meer lig op die saak kan werp, kan die Worcester-polisiekantoor by 023 348 8605 bel. Benewens Eugene word Martha oorleef deur nog twee seuns, Selvin (46) en Marcelino (33).

‘n Huisdiens vir Martha word Saterdagoggend om 09:00 gehou, waarna die begrafnisdiens om 10:00 in die Overhex-gemeenskapsaal sal plaasvind. – Enrico Claassen

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article