Bernardie Hugo
Die graad 10-leerder Bernardie Hugo voor sy naaldwerkmasjien.

Wat op vyf jaar oud vir Bernardie Hugo as ‘n speelse belangstelling begin het – om klere vir sy susters se poppe te maak – het oor die jare tot ‘n passievolle roeping in wording ontwikkel. Dié gr. 10-leerder aan die Hoërskool Montana in Worcester het pas sy eerste matriekafskeidrok gemaak en droom daarvan om eendag ‘n luukse handelsmerk te ontwerp wat op die mees gesogte modetydskrifte se voorblaaie sal pronk.

Hy vertel sy belangstelling in naaldwerk het van kindsbeen af begin toe hy sy susters se poppe begin aantrek het. “Dit het my gefrustreer dat dit net los lappies was wat ek oor hulle moes hang, so ek het toe by my tannie, Wilna Hugo, geleer hoe om naaldwerk te doen. Dit was aanvanklik maar ‘n bietjie slordig, maar met oefening het ek verbeter.”

Bernardie Hugo is sy element agter die naaldwerkmasjien.

Die belangstelling het ná ‘n ruk bietjie afgeneem totdat hy so ‘n paar jaar terug sy liefde vir naaldwerk herontdek het toe hy vir homself ‘n hemp gemaak het om op Kersdag te dra. Sy eerste kledingstuk, wat hy dus vir homself gemaak het, was ‘n geel-en-wit strepieshemp.

Hy tap inspirasie uit historiese kledingstukke en hoe hulle aanmekaargesit is – veral die handwerktegnieke.

“Toe my naaldwerkmasjien hierdie jaar in die middel van ‘n projek breek, het dit my gemotiveer om uiteindelik uit outydse metodes te leer hoe om naaldwerk met die hand te doen – iets wat my op die ou einde baie met die maak van die matriekafskeidrok gehelp het.”

Dié rok, wat Bernardie nou in die kollig laat beland het, was vir Yvonne Duvenhage, wat sy broer, Gerrit, na sy matriekafskeid vergesel het.

Bernardie Hugo
Bernardie Hugo en Yvonne Duvenhage in die rok wat hy vir haar ontwerp en gemaak het.

Bernardie vertel dat Yvonne vir hom byna soos ‘n suster is en ‘n baie goeie familievriend is wat al van gr. 2 af met sy broer bevriend is.

Toe sy hom dus nader om vir haar ‘n rok te maak wat sy na Gerrit se matriekafskeid kon dra, het hy geweet hy sal dit sy alles moet gee sodat dit perfek kon wees.

Gerrit Hugo, Bernardie se broer, saam met sy metgesel vir die matriekafskeid, Yvonne Duvenhage.

Sy inspirasie vir die rok was dié van ‘n tipiese matriekafskeidrok uit die 1970’s en is verder geïnspireer deur ‘n foto wat hy vroeër van ‘n rok met ‘n sjaal gesien het. Dit was die inspirasie vir die skouergedeelte van die rok wat hy vir Yvonne gemaak het.

Bernardie sê dit is nie die eerste keer dat hy vir ander mense klere maak nie, en hy is al deur vriende en familie gevra om vir hulle klere te maak. Hy het ook al klere teen betaling vir kliënte gemaak.

Hy is ook reeds deur een van sy goeie vriendinne, Giulietta Engelbrecht, gevra om haar matriekafskeidrok vir volgende jaar te maak.

Tussen skoolwerk deur kry hy nog nie soveel tyd om sy eie klere te maak nie, maar skuif so af en toe agter die naaldwerkmasjien in wanneer hy iets nodig het wat aandag sal trek – “ ’n statement piece”.

Wat sy eie persoonlike styl betref, vergelyk hy dit met “ ’n bejaarde tannie wat oor baie jare lukrake artikels op avonture versamel het en wat dinge bymekaar gooi todat dit goed lyk”, skerts hy.

Hy hoop om terwyl hy op skool is solank ‘n kleinskaalse onderneming te begin, maar het ná skool sy visier op die Elizabeth Galloway Academy of Fashion Design in Stellenbosch, waar hy modeontwerp wil studeer. Daarna droom hy van ‘n luukse handelsmerk wat hom op die loopplank by die Parys-modeweek sal kry.

“Ek wil net baie graag dankie sê aan my tannie, Wilna Hugo, tannie Ria Louw, die verkoopstannies by Demtex in die dorp en my ouma Marianne du Plessis, wat my almal bystaan om my drome in ontwerp te bereik.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article