Deon Erasmus, Joel Prins van Merwida-kelders, Melvin Sinclair en die internasionale gholfkampioen David Frost by die Pool Transport-burgemeestersgholfdag, wat die afgelope Vrydag (7 November) op die Worcester-gholfbaan gehou is.

Professionele gholfspelers het die afgelope week in die Kaapse Wynlandgholftoernooi, wat van 6 tot 9 November gehou is, sake oor 72 putjies uitgespook.

Die gholfspelers – almal ouer as 50 jaar – het om die beurt op die Worcester- en Silwerstrandbane in Robertson gespeel. Die toernooi het twee pro-am-dae ingesluit, waar drie amateurspelers saam met ‘n professionele speler in ‘n vierbal gespeel het.

Een van die hoogtepunte van die toernooi was die Pool Transport-burgemeestersgholfdag, wat op Vrydag 7 November op die Worcester-gholfbaan beslis is. Altesaam 160 spelers het aan dié pro-am-kompetisie deelgeneem om geld vir welwillendheidsorganisasies in die omgewing in te samel.

Die bekende gholfkampioen David Frost was die ambassadeur en het interessante staaltjies uit sy internasionale loopbaan gedeel.

Die weer het tydens die toernooi mooi saamgespeel met warm, helder sonskyndae en net genoeg wind om die spelers te laat kopkrap. Die professionele spelers het om prysgeld van R500 000 meegeding.Doug McGuigan het sy tiende oorwinning as ‘n lid van die Sunshine Legends-toer beklink met ‘n marge van vyf houe om voor gesoute spelers soos Chris Williams, ‘n oud- SA kampioen van die Professionele Gholfspelersvereniging, Bradford Vaughn, Gregg Upton, die verdedigende kampioen, en Andrew McLardy te eindig.

Almal het onder baansyfer geëindig.

Professionele gholfspelers het om prysgeld van R500 000 in die Kaapse Wynland-gholftoernooi, wat deel van die Sunshine Legends-toer is, meegeding.
Die burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, dr. Elna von Schlicht, saam met die wenner, Doug McGuigan, en Ian Smith, die kommissaris van die Sunshine Legends-toer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article