Nelson Mandela se verjaarsdag en sy nalatenskap, wat op 18 Julie landswyd met 67 minute van toewyding aan die gemeenskap gevier is, het nuwe betekenis gekry toe ‘n lidmaat van die VGK in Worcester-Suid (terloops – dit was ook haar verjaarsdag op dieselfde dag) dit op ‘n heel unieke manier gevier het.
Pat Steenkamp, wat in 2024 as Caring and Sharing se Woman of Excellence vir 2024-’25 gekies en as hul ambassadeur aangewys is, het haar termyn op ‘n heel unieke wyse afgesluit toe sy 67 senior burgers uit die gemeenskap en van verskillende denominasies uitgenooi het om dié besonderse dag saam met haar in die kerkkompleks van VGK Worcester-Suid te kom vier.
Nie net is die groep met ‘n puik program vermaak nie, maar ook met ‘n driegangmaaltyd bederf en met ‘n geskenkpakkie asook lekker bederfies huis toe gestuur. Hulle is voor dit ook deur die plaaslike leraar ds. Malcolm James met nagmaal bedien. Ds. James het daarbenewens nie net sy musikale talente uitgestal nie, maar die gaste ook met sy weergawe van “Kinders van die wind” van Laurika Rauch verras.
Daarna het hy sy tema vir die diens daarop gebou en gesê ons is nie kinders wat deur die wind weggewaai word nie, maar behoort aan Jesus.
Verskeie geestelike leiers, onder wie die eerwaardes Eugene Truter en Magdalene Olivier asook die emeritus-leraar ds. Jurie van Rooy, het met die uitdeel van die sakramente gehelp. Daarna het die gaste na die pragtige en sielvolle weergawe van “I love you Lord” deur Berenice Wildskut geluister, terwyl ‘n gr. 12-leerder van Worcester Gimnasium wat aan endometriosis ly, haar storie met die gehoor gedeel het.
Ds. Van Rooy het grepe uit sy boek Troos my Volk met die gehoor gedeel.
In die uitgesoekte gehoor was die uitvoerende burgemeester, Antoinette Steyn, en haar dogter, terwyl die programdirekteur, Selvador Bruiners, die gehoor met sy kwinkslae aan sy voete gehad het. Onder die gaste was die 101-jarige Tannie Sophie Booysen en Oom Koos Botha (96), die Antie Siena Belelie (92), die tantes Ennie Williams en Elizabeth Theron (albei 88), Tant Rosie Williams (86) en die 85-jarige Tant Daphne Daniels.
Almal was dit eens dat dit gewis vir almal daar een van die lekkerste bederfies was. Pat het in haar dankie- toespraak al haar borge en almal wat dit bygewoon het, bedank dat hulle haar en wyle Mandela se verjaarsdag op só ‘n gepaste wyse kon vier.- Alver Uys



