Sakelui in die Breedevallei en verteenwoordigers van die munisipaliteit het byeengekom om ‘n sakenetwerk te vestig. Foto’s: Facebook: Breedevallei Municipality

Sakelui in die Breedevallei het die afgelope week by die Nekkies-vakansieoord buite Worcester byeengekom met die doel om ekonomiese groei in die omgewing te versterk.

Die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme het dié geleentheid in samewerking met die Breedevallei-munisipaliteit en die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se afdeling vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling aangebied. Die tema was “Skep vennootskappe vir betekenisvolle verandering in die Breedevallei”.

Sprekers van die regering, distrik en munisipaliteit, sowel as sakeleiers, het die groep toegespreek.

Volgens dr. Julian Kritzinger, die burgemeesterskomiteelid vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling, toerisme, kuns en kultuur, het Breedevallei lank nie ‘n sakekamer gehad nie. Die munisipaliteit het in die afwesigheid van ‘n gekoördineerde sakekamer afsonderlike vergaderings met sakelui in verskillende sektore gehou.

Met hierdie geleentheid is die bedryfsleiers in hierdie sektore genooi om die voordele van ‘n sakenetwerk te bespreek. ‘n Tussentydse bestuurskomitee is verkies om die Breedevallei-sakenetwerk van die grond af te kry. Die doel van dié netwerk is om sakelui en ander rolspe­lers te verenig sodat hulle insigte kan deel en saam kan werk aan kernsake wat ekonomiese groei en ontwikkeling in die omgewing raak.

Verskeie sprekers van die regering, distriksmunisipaliteit, sakegemeenskap en plaaslikse munisipaliteit het opgetree. Hulle het klem gelê op die belangrikheid om sterk sakenetwerke te vestig om ekonomiese transformasie te bewerkstellig.

Die tussentydse komitee bestaan uit Khaya Belani (Zwelethemba-sakeforum), Sandra Jaftha (informele handel), André Koegelenberg (medium ondernemings), Eloise Meyer (Worcester-toerisme), Sumaya Moses (jeug), Phumza Zotwana (landbou) en Wilhelm Stears van De Doorns.

Die afgevaardigdes van die BVM sal mettertyd aangewys word.

Die eerste take voor die komitee se deur is die mentorskap en ontwikkeling van informele handelsmarkte, jeugkapasitering, veiligheid en sekuriteit, “Ease-of-Doing-Business” in Breedevallei en die deurgee van inligting oor finansieringsgeleenthede.

• Sakelui wat nog inligting oor die netwerk wil verkry, kan steeds betrokke raak. Enige navrae kan gerig word aan Colin January van BVM by cjanuary2@bvm.gov.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article