Die Breedevallei-munisipaliteit se plaaslike ekonomiese ontwikkelingsafdeling het onlangs ’n suksesvolle kapasiteitsbou-werksessie vir opkomende boere by die Nekkies-vakansieoord aangebied.
Die doel van die werksessie was om inligting en kennis uit te ruil oor hoe om die Breedevallei se landbou-uitsette te vergroot, lewenstandaarde deur landbou te verhoog en hoe om kommersieel lewensvatbare landbou-ondernemings op te bou.
Die werksessie is aangebied deur die munisipaliteit se plaaslike ekonomiese ontwikkelingsafdeling, in samewerking met die Wes-Kaapse departement van landbou, die nasionale departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling en die Zwelethemba Landbouforum.
Die Wes-Kaapse departement van landbou se senior landboukundige, Sazi Mpotulo, het verduidelik watter landbou-ondersteunings- en ontwikkelingsprogramme beskikbaar is.
Hy het boere aangeraai om voortdurend op die volhoubaarheid en kommersiële lewensvatbaarheid van hul ondernemings te fokus.
Die nasionale departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling se projekbeampte in die Kaapse Wynland-gebied, Oratile Soldaat, het verduidelik watter prosesse opkomende boere kan volg om hul eie landbougrond te kan bekom.
Die boere het ook basiese opleiding gekry oor hoe om aanlyn aansoeke vir landbougrond by die departement in te dien.
Hierbenewens het Mpho Sethaba verduidelik hoe boere te werk moet gaan om finansiering van die departement te kry en watter inligting in hul sakeplanne vervat moet word.
Die werksessie om kapasiteit te bou was suksesvol, met waardevolle inligting wat uitgeruil is en nuwe kontakte wat gemaak is.
. Stuur e-pos aan die Breedevallei-munisipaliteit se plaaslike ekonomiese ontwikkelingsbeampte, Lerato Mniki, by lmniki@bvm.gov.za met enige navrae oor die programme en finansiering.




