ROBERTSON – Die gemeenskap van Robertson is die week diep in rou gedompel ná die tragiese dood van drie inwoners in motor-ongelukke net twee dae uit mekaar.
Die eerste ongeluk het Vrydagaand (9 Mei) gebeur toe Leighton Louw (20), ‘n derdejaar-onderwysstudent aan die Noordwes-Universiteit, in vermoedelik ‘n tref-en-trap-voorval net buite die dorp gesterf het. Louw is naby sy ouerhuis op die plaas Goederede-boerdery raakgery en is op die toneel dood.
Volgens die polisie was Louw op pad terug van ‘n afskeidspartytjie nadat hy sy proeftyd by die Laerskool Dagbreek voltooi het. Hy het blykbaar buite die voertuig gestaan toe hy getref is, terwyl sy broer, Calvin (21), nog in die voertuig gesit het. ‘n 40-jarige man is later aangekeer en sal op aanklagte van dronkbestuur en strafbare manslag in die Robertson-landdroshof verskyn.
Louw se ma, Lizelle Regue, het met groot hartseer vertel: “Leighton was ‘n jong man met baie drome – altyd bereid om ander te help. Sy passie vir onderwys het hier in Robertson begin, waar hy self op skool was. Ons onthou hom as iemand met ‘n groot hart en baie liefde vir mense.”
Roudiens
‘n Roudiens vir Louw word vanaand (Donderdag 15 Mei) om 19:00 in die Rooiberg-saal gehou, met die begrafnis Saterdag (17 Mei) by die Vrye Gereformeerde kerk in Loopstraat.
Slegs twee dae later – Sondagmiddag 11 Mei – is die dorp weer geruk toe ‘n botsing reg van voor op die pad tussen Robertson en Bonnievale die lewe van twee mans geëis het. Francois Malherbe (52), ‘n bekende sakeman in die dorp, en Jan Kapp (33) is albei op slag dood. Die botsing het omstreeks 16:30 naby die Welgeluk-afdraai gebeur.
Kapp se vrou, Chantelle (36), en hul twee kinders, Conner (8) en Amor (10), was ook in die voertuig. Chantelle is in ‘n ernstige toestand na Tygerberg-hospitaal oorgeplaas, terwyl Conner tans in die Rooikruis-hospitaal in Kaapstad behandel word. Amor is ontslaan.
Malherbe was ‘n bekende figuur in die plaaslike gemeenskap en medestigter van die gewilde Atila Trust Farm-trouvenue. Hy het voorheen as model in Londen gewerk en later sy eie agentskap in Kaapstad en Johannesburg begin. Hy het in 2013 in Robertson kom woon.
“Francois was geliefd in die dorp – altyd vriendelik en vol lewenslus. Die bruide was mal oor hom,” het sy lewensmaat, Johan Geldenhuys, gesê.
Huldeblyke het van oral ingestroom, waaronder een van die bekende modeontwerper Jacques Lagrange: “Ek het Francois 20 jaar gelede ontmoet. Daardie blonde hare, blou oë en stout glimlag sal ek nooit vergeet nie. Hy het ‘n hart van goud gehad.”
‘n Viering van Malherbe se lewe sal aanstaande Sondag (25 Mei) om 11:00 by The Garrison in Robertson gehou word. ‘n Tweede herdenking word volgens sy wense vir 17 Julie by die Cliff Path in Hermanus beplan.
• Die omstandighede rakende die botsing word steeds ondersoek. Enige ooggetuies word versoek om sers. AJ Cookson by 023 626 8349 te bel.






