Die Robertson-polisiekantoor se bevelvoerder, kol. J. Alexander, nooi organisasies in die Robertson-polisiëringsgebied na ’n vergadering aanstaande Donderdag (29 Februarie) om 18:30 vir 19:00.
Die doel van die vergadering is om ’n uitvoerende komitee (exco) vir die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) te verkies.
Die vorige GPF het wanfunksioneel geraak en is deur die distrikskommissaris van die Kaapse Wynland ontbind.
Die verkose uitvoerende komitee sal slegs vir ’n tydperk van nie langer nie as ’n jaar dien. Tussen September en Desember 2024 sal ’n jaarvergadering gehou word, waar ’n nuwe uitvoerende komitee verkies sal word. Hierdie uitvoerende komitee sal vir vyf jaar dien – van 2025 tot 2029.
Die vorige uitvoerende komitee se termyn sou vanjaar geëindig het. Dit is hoekom die komitee, wat op 29 Februarie verkies sal word, slegs tot die volgende jaarvergadering aan die einde van vanjaar sal dien.
Die vergadering word by die Robertson-stadsaal in Kerkstraat gehou.



