’n Digter van Ashton se werk kan in ’n nuwe digbundel saam met talle ander bekende skrywers se werk gesien word.
Leona Conradie se gedig “Fathers and their Mirrors” is in die bundel Apocalypse at the End of the Street ingesluit. Sy het altesaam al nege gepubliseerde gedigte.
Conradie het haar gedagtes op laerskool begin neerpen.
“Ek het in gr. 4 verskriklik baie boeke begin lees. Maar ek het nie baie kinderstories gelees nie. Nie lank daarna nie het ek begin skryf.”
Sy verduidelik dat die woorde eintlik net altyd daar in haar kop rondgedwaal het, maar sy het dit nooit neergeskryf nie.
“Ek sal ook nie sê ek het ’n spesifieke skryfstyl nie. Dit wat op die blad verskyn, is hoe my stem in my kop is. Dis baie informeel. En deur my storie te vertel kry iemand anders ook sodoende ’n stem daaruit.”
Sy word deur alles wat rondom haar aangaan geïnspireer om woorde neer te pen.
“Alles wat rondom my aangaan, inspireer my werk. Ek skryf baie oor die dood en hoe verskeie mense dit verwerk. Ek skryf ook baie oor seerkry. Maar dis vir my moeilik om liefdesgedigte te skryf. Dis nie iets waarop ek in die algemeen fokus nie.”
Al fokus sy meer daarop om gedigte te skryf, het sy ook ’n kortverhaal wat in ’n kortverhaalbundel gepubliseer is.
“Die persoon wat daai bundel saamgestel het, het my gevra of ek nie dalk ’n kortverhaal wou skryf nie. Ek was eers huiwerig om dit te doen, maar Elsa Winckler, wat die bundel saamgestel het, het my oorreed om dit te doen. Ek is baie trots op alles wat ek nog tot dusver bereik het.”
Sy het ook ’n jeugroman saam met Cliffordene Norton geskryf. Dit sal later vanjaar beskikbaar wees.





