WITZENBERG – Die gort is behoorlik gaar in die Witzenberg nadat ’n ANC-geleide koalisie beheer van die raad oorgeneem het.
Dit volg ná ’n maande lange struweling tussen die DA en GOOD. Die voormalige speaker, Elizabeth Sidego, het ’n vergadering in Junie vir redes buite die raad se beheer gekanselleer. Die redes het ingesluit die sluiting van Michellspas as gevolg van die gure weer waartydens die pad beskadig is.
’n Groep raadslede het toe ’n vergadering van hul eie gehou en op hierdie vergadering is ’n mosie van wantroue ingedien en ’n nuwe burgemeester, onderburgemeester en speaker is verkies. In ’n verklaring wat destyds deur die speaker uitgestuur is, is gesê die vergadering was onwettig weens die gebrek aan ’n kworum.
Katriena Robyn is op daardie vergaderings as burgemeester verkies, en sy is nou weer as burgemeester van die Witzenberg-streek verkies. Die destydse verkiesing van Robyn het egter lang persverklarings van albei partye ontlok en ook daartoe gelei dat die partye regsmenings verkry het.
Intussen het die DA volgehou die DA-lid Hennie Smit sou die burgemeester bly en Sidego sal ook haar pos behou. Nou, maande later, is beide Smit en Sidego vervang. Die mediaverklaring waarin die munisipaliteit die nuus bekend maak, maak melding van ’n spesiale raadsvergadering wat Dinsdag 17 Oktober gehou is waartydens die verkiesing plaasgevind het.
“Dit het gevolg op twee mosies van wantroue, wat onderskeidelik teen die vorige speaker en uitvoerende burgemeester ingedien is. Albei mosies is aanvaar en was suksesvol om Hennie Smit en Elizabeth Sidego uit die amp te verwyder. Na afloop van die stemproses is die raadslid Petrus Heradien (ICOSA) as speaker van die raad verkies. Hy het in sy aanvaardingstoespraak gesê dit was ’n lang pad na vryheid, maar bygevoeg “die lyding het nou tot ’n einde gekom”, lui die verklaring.
Daarna is die raadslid Katriena Robyn (GOOD) as die nuwe uitvoerende burgemeester van die Witzenberg-raad verkies.
“Daar was geen benoeming vir die pos van uitvoerende burgemeester van die DA en koalisie nie. Robyn het in haar toespraak gesê die hooffokus vorentoe is op dienslewering, die hulpbehoewendebeleid en die bekamping van korrupsie. Sy het ook genoem dat ’n nuwe burgemeesterskomitee binnekort aangewys sal word. Die meeste van die politieke partye wat in die raad verteenwoordig is, het die nuutverkose speaker en uitvoerende burgemeester van die Witzenberg-raad gelukgewens en hul steun aan die nuwe regerende koalisie toegesê,” word in die verklaring geskryf.
Die DA het op sy beurt ook ’n verklaring oor die dag se gebeure vrygestel.
“Ons het vandag gesien hoe die magsbehepte ANC-geleide koalisie die raad in Witzenberg met die hulp van Witzenberg Aksie oorneem. Ná verskeie mislukte pogings die afgelope paar maande het Witzenberg Aksie die ooreenkoms met die DA verbreek en die ANC en hul vennote in beheer van die Witzenberg-munisipaliteit geplaas.
“Die samewerkingsooreenkoms is in Augustus vir die oorblywende raadstermyn gesluit en in ’n persverklaring gedurende daardie tyd het die raadslid Gert Laban gesê die vertrouensverhouding met hul vorige vennote is verbreek. Hy het verder gesê hul rede om met die DA saam te werk is om stabiliteit in Witzenberg te bewerkstellig,” lui die DA se verklaring.
Hulle maak egter melding van teenstrydigheid en verseker ook die gemeenskap van die Witzenberg dat hul welstand steeds ’n prioriteit is.
“Wat egter werklik afgespeel het, is in skrille teenstrydigheid met die aanvanklike ooreenkoms. Die DA is verbind tot goeie bestuur in belang van elke inwoner en weier om die knie te buig vir politieke opportunistiese druk wat munisipale prosesse omseil en ’n bespotting van die raad en inwoners se belang maak. Ons is verbind tot skoon regering en sal ons rol as opposisie ywerig en doeltreffend uitvoer. Enige onrealistiese beloftes en inmenging in administrasie sal deur die nodige munisipale en raadsprosesse aangespreek word. Die magsbeheptheid van individue wat hul eie belang voor dié van inwoners stel, sal nie geduld word nie en ons sal aanhou veg vir Witzenberg.
“Die mense van Witzenberg verdien nie wat hulle vandag gekry het nie, maar ons verseker hulle dat hul welstand ons prioriteit bly en ons sal nie toelaat dat kansvatters Witzenberg tot hul eie voordeel ruïneer nie.”
Die GOOD-party het die verkiesing van Robyn as Witzenberg-burgemeester verwelkom, wat nou die nuwe koalisie sal lei om die munisipaliteit “skoon te maak”.
“Trienie”, soos sy in haar gemeenskap bekendstaan, bring ’n magdom ervaring na die pos ná jare in plaaslike regering en sal ongetwyfeld uitstekende leierskap in Witzenberg bied,” het die leierskorps in ’n persverklaring gesê.
“Sy het voorheen gedien as ’n burgemeesterskomiteelid, ’n onderburgemeester en die uitvoerende burgemeester.
“Robyn het deur die jare niks anders as toewyding en integriteit getoon in haar werk vir die mense van Ceres, Tulbagh, Wolseley, Op-die-Berg en Prins Alfred Hamlet nie.”



