‘n Groot boom met sy wortels diep in die grond van Roberston geplant, het geval.
Die bekroonde skrywer en digter Jeff Lakay is op 30 Augustus op 82-jarige ouderdom ná ‘n stryd teen kanker oorlede. Sy skrywerspen was tot op die einde nog besig terwyl hy aan sy dertiende boek, sy lewensverhaal, gewerk het.
Lakay is bekend vir sy liefde vir Robertson se mense en sy werk om te verhoed dat die stories van die bruinmense verlore gaan. Hy het ‘n omvattende versameling koerantuitknipsels, staaltjies en foto’s oor die jare heen bymekaargemaak, wat die stories van die dorp se mense vertel. Sy droom was dat ‘n uitstalling gehou sou kon word waar bruinmense se verhale vertel sou word. Oor wat met dié uitgebreide versameling sal gebeur, het sy dogter Jeflin gesê, sal sy kinders ná sy begrafnis besluit.
Lakay, wat in Robertson gebore en getoë is, het ná sy onderwysstudies in Oudtshoorn by die Laerskool De Viliers in sy tuisdorp begin werk. In daardie dae was onderwysers sleutelfigure in die gemeenskap, wat by die Sondagskool, begrafnisse, kore en jeuggroepe diens gedoen het.
Dit het sy liefde vir sy gemeenskap dieper geanker. Hy was 32 jaar lank by die laerskool betrokke.
Lakay was een van die stigterslede van die C.A.B-dwelm- en alkoholsentrum in die dorp. Hy was die laaste oorlewende van die plaaslike musiekgroep die Twilights en was ook deel van die Gospel Bells-mannekoor.
“Ek wil nie hê ons mense se stories moet vergeet word nie,” het hy verlede jaar aan Standard vertel.
Een van sy talle digbundels, Bo-dorp se mense – my kanniedood volk, handel juis oor die lewe van die gewone mense in sy tuisdorp.
Kinderjare
Hy het vertel sy kinderjare was vir hom – soos vir talle ander, ‘moeilik’. “Bruinmense is in die Apartheidsjare aan die anderkant van Van Zylstraat gedwing om na die bokant van die dorp toe te trek. Dit is waar die naam Bo-dorp se mense vandaan kom. Ek het in ‘n tweevertrekhuisie met ‘n misvloer grootgeword en moes van jongs af inspring om skoolvakansies te werk. Daardie huisie staan vandag nog daar.”
Die saamvleg van woorde was van jongs af ‘n talent met sy eerste gedigte wat reeds op nege jaar die lig gesien het en as tiener het sy vriende by hom kom aanklop om hul liefdesbriewe te skryf om die meisies te beïndruk. Sy werk is in die Huisgenoot gepubliseer en sy eerste rubriek, “Die Poolster”, het in ‘n plaaslike koerant verskyn. Hy het gesukkel om ‘n uitgewer te kry vir sy skryfwerk oor bruinmense se geskiedenis.
Tesame met ander skrywers en digters, soos Floris Brown van Worcester, het Lakay die Breedevallei Dichters gestig, wat geleenthede geskep het toe hul werk in ‘n bloemlesing opgeneem is. Een van die hoogtepunte vir Lakay was dat sy werk in ‘n bundel – saamgestel deur die bekende Lina Spies en Floris Brown, en getiteld Ontheemdes – Breedevallei Dichters Poëzie Nacht van die Muse, opgeneem is. Lakay het ook as spreker opgetree en TV-insetsels oor sy werk is ook gemaak.
“Die DAK Netwerk SA het met leedwese kennis geneem van die heengaan van Mnr Jeff Lakay, die bekende digter en skrywer van Robertson. Hy het in lewe ‘n onontbeerlike bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde gelewer en ‘n baanbrekekersrol vervul op ‘n tydstip in ons geskiedenis toe bruin digters nog nie hul werke so vryelik kon publiseer en versprei nie.
Dit was sy toewyding om deure vir opkomende digters te help oopmaak, wat hom in 2023 die gesogte DAK-prys besorg het. Die eretoekenning was erkenning vir sy lewensbydrae tot die bevordering van Afrikaans en digkuns in Suid-Afrika,” het Charles Beukes, ‘n direksielid van die organisasie – wat hulself beywer vir die ontwikkeling van Afrikaanse gemeenskappe wat voorheen benadeel is – gesê.
Lakay se vrou, Elizabeth, is verlede jaar oorlede. Hy word oorleef deur sy vyf dogters – Kamila Dollie, Vanessa van Voore, Jeflin Smith, Lucinde Lakey en Delivia Eksteen – en 13 kleinkinders.
• ’n Roudiens word vandag (Donderdag 10 September) om 19:00 by die AGS-gemeente in Coetzeestraat, Robertson gehou. Sy begrafnisdiens word Saterdag (12 September) ook daar gehou.




