‘n Man van Robertson is Maandag 20 jaar direkte tronkstraf opgelê vir die verkragting van en poging tot moord op sy vriendin in 2023 nadat hy ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

Sindinkosi Maseme is 20 jaar tronkstraf opgelê vir verkragting en 15 jaar vir poging tot moord. Die hof het gelas dat die vonnisse samelopend uitgedien word.

In sy pleitooreenkoms erken Maseme dat hy die klaagster die nag van 1 April 2023 by ‘n woning in Robertson raakgeloop het. Hy erken hulle was ten tyde van die oortreding in ‘n verhouding. In die pleitooreenkoms sê hy hulle het liefdes- probleme gehad en sy wou die verhouding verbreek. Volgens hom het hy kwaad geword en aangedui dat hy seks met haar wou hê. Hy noem verder die klaagster was nie bereid om omgang met hom te hê nie. Volgens hom het hy aggressief geword en haar begin aanrand deur haar te slaan en haar meer as een keer te skop met die bedoeling om haar ernstig te beseer. Hy erken hy het geweet sy wou nie seks met hom hê nie, maar het voortgegaan om die daad met haar te pleeg.

Volgens Maseme het hy die klaagster na afloop van die daad beveel om niemand daarvan te vertel nie. Hy erken hy het die seksdaad met die klaagster sonder haar toestemming gepleeg. Hy erken ook dat hy geweet het sy optrede was opsetlik, verkeerd en strafbaar deur die reg.

Met betrekking tot die aanklag van poging tot moord erken hy dat hy op 4 April 2023 by die klaagster se werksplek was. Hy sê hy het die klaagster weer gaan konfronteer oor haar voorneme om hul verhouding te beëindig. Maseme het sy mes uitgehaal en haar begin steek. Hy sê toe veiligheidsbeamptes naderkom, het hy opgehou en weggehardloop.

Maseme erken sy optrede was onwettig, opsetlik en strafbaar deur ‘n hof. Volgens hom het hy geen reg gehad om die daad te pleeg nie. Waarnemende streeklanddros Francois Lamprecht het die saak hanteer. – Enrico Claassen

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article