’n Groot en gevaarlike gat vol riool in Zwelethemba was vir bykans twee maande oop, maar is skielik toegemaak nadat Standard daaroor navraag gedoen het.
Victor Rampeng het Vrydag 6 Mei aan die koerant gesê die gat by die erf in die buurt staan al die afgelope twee maande oop.
Rampeng sê ’n vrou het selfs al in die gat geval en die kinders speel gereeld naby die gat, wat ’n groot gesondheidsgevaar vir hulle inhou.
Tydens ons besoek het kinders naby die muur, wat lyk asof dit enige tyd in die gat kan omval, gespeel. Rampeng sê hy moes konstant kinders wat naby die gat speel, wegjaag.
“Hulle (BVM) het die gat gegrawe en nooit weer teruggekom nie,” sê hy.
Hy het verskeie e-posse aan die munisipaliteit gestuur om te vra dat die gat toegegooi word. Die gat is verlede week deur die munisipaliteit opgevul.
ROODEWAL
Juliaceen Job, ’n inwoner van woonstel L7 in Roodewal, sukkel al die afgelope ses weke om die munisipaliteit sover te kry om die rioolprobleem in haar agterplaas op te los.
“Ek wag al ses weke lank vir die munisipaliteit om iets te doen. Hulle was een keer hier; hulle het net gekyk en weer gery. Hier is ’n klomp mense wat kan getuig dat hulle net kyk en weer ry,” sê Job.
Job sê sy was reeds by die BVM om vir hulp te vra, maar tot nou het sy nog geen hulp ontvang nie.
“Die water is grasgroen en stink verskriklik. My pa is nou bedlêend en ek het longinfeksie weens die riool opgedoen,” sê Job.
NYWERHEIDSGEBIED
Die eienaars van die Truck Stop op die hoek van die Robertson-pad en Perkinsstraat is die nuutste sakelui wat kla oor die uitwerking wat die riool op hul onderneming het. Hulle sê die rioolstank maak hul werkers siek en jaag klante weg. Die aanhoudende vandalisme in die omgewing veroorsaak ’n veiligheidsrisiko vir hul onderneming sowel as hul klante.
Navraag is aan die munisipaliteit gestuur, en die antwoord volg hieronder.
UITDAGINGS EN OPLOSSINGS:
JP Myburg, kommunikasiebeampte vir die BVM, sê die uitdagings wat tans ondervind word, is grootliks aan drie aspekte gekoppel: vandalisme, ’n tekort aan masjiene (JetVacs) en verouderde stelsels. “Ons vind steeds klippe, gestolde vet, koerante, papier, metaal en allerlei ander goed in ons dreineringstelsel. Hierdie uitdagings maak dit moeilik om die probleme spoedig op te los aangesien dit baie personeel en tyd verg om rommel in die stelsels te soek. Rioolstelsels maak staat op hellings en swaartekrag, waar water gewoonlik hidroulies aangedrewe is. Dit beteken mense moet fisiek by die stelsels ingestuur word,” sê hy.
Myburg voeg by daar is hoop. Die munisipaliteit doen omvattende studies oor die gebiede wat geraak word. Dit word gedoen deur kenners wat die Drakenstein-munisipaliteit met ’n soortgelyke studie gehelp het.
“Fase 1 van die studie, wat Rawsonville insluit, is amper voltooi en die ander gebiede sal teen einde Augustus klaar wees. Hierna sal aanbevelings gedoen word om ons inwoners en spanne te help. Die munisipaliteit het ook vir twee nuwe JetVac-masjiene begroot. Dit sal hierdie jaar aangeskaf word en ons spanne bystaan om probleme op te los. Tans moet aandag gegee word aan groot krisisse en instandhouding, wat veroorsaak dat alle ander klagtes geprioritiseer moet word en daarvolgens aangepak moet word. Intussen het ons ekstra personeel aangestel en ons het ’n ekstra JetVac wat gehuur word.”
PROBLEEM IN ZWELETHEMBA:
“Daardie gebied is ’n hotspot. Ons kry gereeld klagtes. Ons spanne was daar om inwoners by te staan en ’n gat moes gegrawe word weens ’n struktuur wat deur die eienaars van die woning op die rioollyn opgerig is. Ons moes toe tyd toelaat sodat al die riool kan dreineer, waarna die gat die afgelope week toegemaak is. Ons het ook ons konsultante daarheen gestuur,” sê Myburg.
probleem in l-blok:
Myburg sê die probleem wat by die L-blok opgeduik het, is weke gelede opgelos, maar ’n nuwe probleem is by die J-blok geïdentifiseer en hul spanne werk daaraan. Hy sê dit is op die dieselfde rioollyn en dan stoot riool tussen die blokke op.
“Ons spanne pomp gereeld daar en ons soek na ’n oplossing deur hierdie studie om daardie probleem die hoof te bied. Die rioolstelsel is verouderd en beurtkrag kniehalter die pomp van riool. Daar woon ook soveel meer mense in daardie omgewing – meer as byvoorbeeld 10 jaar gelede.”
probleem by die R60 (truck stop):
Myburg verduidelik vandalisme is ’n groot uitdaging in die nywerheidsgebied. Hy sê die BM-spanne probeer hul bes, maar dit is soms ’n onbegonne taak. Volgens hom behoort die probleem binne die volgende paar dae opgelos te wees, maar hy noem die munisipaliteit kry allerhande goed wat in die rioolstelsel weggesteek word.
“Draadheinings en metaal veral. Die raad het egter ’n sekuriteitsplan wat hierdie soort diefstal en vandalisme sal aandurf,” voeg hy by.





