In Riverview-woonstelle kry kinders al maagaandoenings van onverwerkte riool wat by die dreine uitspoel en inwoners is nou keelvol.
’n Paar inwoners het Standard genooi om self te gaan kyk hoe hulle daagliks met die riool moet leef. Die besorgde inwoners van blokke E, F, U en V sê hulle is raadop.
Met Standard se besoek aan bogenoemde woonstelblokke Dinsdagmiddag het die riool steeds geloop.
Die 75-jarige Jasmina Kriel, haar dogter Mareldia Anthony en kleindogter Habeelah Kriel van E-1, sê hulle het genoeg gehad.
Kriel sê die riool maak die lewe vir hulle onmoontlik.
“Ons vier Sondag Labarang, maar sê vir my wie kan feesvier as die riool buite jou deur loop? Ons kan nie ons venters oopmaak nie; die hele huis is vol vlieë,” sê Anthony. Sy wil net hê die munisipaliteit moet sy werk kom doen.
“Ons vra mos nie baie nie; ons wil net hê die werk moet gedoen word, want ons mense raak siek hier in die riool. Dis onhigiënies.”
Nog ’n inwoner, Joan Appolis van woonstel U-7, sê Kersfees het hulle dieselfde probleem gehad. Sy beweer haar kleinkind het meningitis opgedoen weens die aanhoudende riool wat konstant by die woonstelle uitloop.
“Ons kan nie mense verwelkom nie, want wie wil hierna toe kom waar die k*kwater loop?” vra Apollis.
’n Ander inwoner sê haar tweejarige het in die hospitaal beland as gevolg van die probleem.
“Ons moet elke keer by die hospitaal wees en van die werk af bly wanneer die kinders siek is,” sê sy.
Kriel sê die kinders kan nie buite speel nie, want hulle hardloop in die rioolwater. Sy sê hulle verstaan nie die water gaan hulle siek maak nie.
“Hulle beskou dit as normaal dat die riool hier loop. Ek het dit aangemeld en my ouma het dit aangemeld,” sê sy.
Die inwoners sê tot dusver het ses kinders gastroënteritis opgedoen.
“Die kieme van die rioolwater is oral, want ons loop in en uit by ons huise. Ek wil hê die munisipaliteit of die burgemeester moet tot hier kom sodat hulle kan sien hoe ons moet lewe. Hulle bly nie hier nie, so hulle worry nie. As hulle sien, sal hulle verstaan hoekom ons kwaad is.”
Die inwoners sê wanneer die munisipaliteit kom en die dreine oopmaak, is dit net ’n kwessie van tyd dan loop die riool weer oor.
’n Navraag is aan Joffrey Jack, die wyksraadslid en burgemeesterskomiteelid vir ingenieursdienste, asook Antoinette Steyn, die burgemeester, gestuur.
Volgens Jack is hy bewus van die probleem. Jack sê hy self meld die probleme telkemale aan wanneer dit gebeur.
Hy sê hulle sit tans met een van die grootste probleme binne die munisipaliteit, met verwysing na die rioolkrisis. “Baie inwoners dink die raadslid stel nie belang nie, maar ek het vele verwysingsnommers van waar ek self die probleme by die munisipaliteit aangemeld het.”
Hy sê die woonstelle het meer as een “rioollyn”. “Die lyne loop van die S- en die T-blok (Hamnerstraat se lyn) tot by die J-blok, dan van die J-blok af tot en met G, H, U en V, wat een lyn is. Dan het E, F, W en X ’n lyn. Die blokke C, D, Y en Z het ook ’n rioollyn. Laaste is die A-, B- en AA-blok se lyn in Pietersestraat.”
Jack sê die grootste uitdaging is die lyne wat verstop en oorspoel. Hy sê hy was Saterdag 23 April saam met die BVM-spanne waar hulle gewerk het.
“Die mense verstaan nie die proses nie. Dit baat nie ons spuit in die binnekant van die woonstelle skoon, maar die lyne is geblokkeer nie.”
Jack sê hy woon al 44 jaar in die woonstelle en weet presies waardeur die inwoners gaan.
Volgens JP Myburg, die BVM se woordvoerder, is die munisipaliteit bewus van die probleem en spanne werk in die gebied om aandag daaraan te gee.
Myburg sê die munisipaliteit het ’n agterstand in ander dorpe en streke en die Jetvac beweeg die hele tyd tussen die dorpe. “Ons is baie opgewonde dat daar begroot is vir nog een van hierdie trokke (Jetvac) wat die las en impak sal verminder en sal help dat inwoners gehelp sal word,” sê hy.
Die munisipaliteit maan mense om nie ongewenste voorwerpe in die dreinstelsel te laat beland nie aangesien dit bydra tot van die krisisse wat van dag tot dag ervaar word.



