Die trotse sokkerklub van Riverview, View of Hope, het die afgelope naweek in albei sy wedstryde tweede gekom. Die Superliga-span het 1-2 teen Double Foot Shooters verloor en die Promosieliga-span het Sondag 0-2 in De Doorns teen Black Pool verloor.

Die wedstryd tussen die twee Superliga-spanne het veral in die middelveld fel gewoed, waar die spanne se spelers probeer wys het hulle is in beheer. View of Hope se doelskieters het in die eerste helfte genoeg geleenthede gekry, maar het dit nie in punte omgeskep gekry nie.

Doubles, aan die ander kant, het by twee geleenthede besit omgekeer en Hope se doelgebied binnegedring. Die span se eerste doel is aangeteken toe Hope se verdedigers en doelwagter spel gestaak het nadat hulle aange­neem het ’n Doubles-speler is onkant, maar die lynregter én die skeids­regter, Irvine Jeptha, het anders besluit en die doel is toegeken (0-1).

’n Kort rukkie later het ’n soortgelyke voorval plaasgevind en Doubles het weer die nette laat raas. Ten spyte van kapsie deur Hope se senior spelers het Jeptha ook dié doel toegeken. (0-2). Dit was ook die rustydtelling.

Ná rustyd en met taktiese veranderings deur Hope se bestuurspan het die verdediging meer solied voorgekom en het hulle ook meer aanvallende sokker gespeel.

Die spoedvraat Jowaryne September het Doubles se verdediging oopgevlek, die doelwagter ontduik en ’n pragtige doel aangeteken. (1-2). Hierna het Doubles met mening gespeel vir die gelykmaker. Jowaryne was weer op pad doelhok toe, nadat die veteraan Theo de Bruin hom mooi weggestuur het. Hy het weer die doelwagter geklop, maar is deur die lynregter vir onkantspel teruggeroep.

Spelers wat hard probeer het, was Efraim de Bruyn – in ’n ongewone posisie die laaste man op verdediging – kaptein Riedewano Brooks, De Bruyn in die middelveld asook September, wat elke wedstryd wys dat hy kort voor lank na die Promosie-span opgeroep behoort te word. September is weer eens as speler van die wedstryd aangewys nadat die wedstryd 1-2 in die guns van Doubles geëindig het.

Die Promosieliga-span het gaan besoek aflê by die voorlopers in hul groepfase, Black Pool.

Hope het met baie selfvertroue na De Doorns gereis, maar die spelers het erg gesukkel om die ongelyke veldoppervlakte gewoond te raak nadat rugby die vorige dag daarop gespeel is.

Al hul aangeë was of te hard, of te hoog, of te sag. Hope het die eerste helfte van die wedstryd oorheers en talle kanse gehad om die doelhok aan te val, maar alles tevergeefs. Die beste kans het laat in die eerste helfte gekom toe Kelvin Butland die bal pragtig in Black Pool se doelgebied onder beheer gebring het, maar hy is deur die verdediger neergevel en die skeidsregter het ’n strafskop op die lyn van die doelhok toegeken. Jonathan Prins het die strafdoel waargeneem, maar links verby geskop. Die telling het met rustyd dus 0-0 gebly.

Die tweede helfte het ’n bietjie drama opgelewer deurdat Black Pool se spelers by twee geleenthede Hope se flaters agter by die verdediging uitgebuit en doele aangeteken het.

Howard Anthony het laat in die wedstryd met die bal weggebreek en toe hy voorgekeer is, het hy die bal pragtig vir Dimitri van Rooi aangestuur, wat die nette laat raas het – net om om te kyk en die lynregter se vlag hoog in die lug te sien. Die wedstryd het 0-2 in die guns van Black Pool geëindig.

Die afrigters het die bedrewe middelskakel Kelvin Butland as die speler van die wedstryd aangewys.

Daarmee het Hope ’n droewige naweek afgesluit en is dit van hier af “terug tekenbord toe”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article