Die Robertsonse rugbyklub Rangers bied Saterdag 29 Junie sy jaarlikse Pienk-dag-kankerbewusmakingsprojek in samewerking met die Bonnievale Blue Birds-rugbyklub en die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) op die Van Zylstraat-sportterrein aan.
Rangers se Pienk-dag-kankerbewusmaking val vanjaar saam met dié twee klubs se Grootuitdaagbeker-kragmeting wat later die middag gespeel word.
Die tema vir die dag is “Veg saam teen kanker”.
Rugbyspelers van bogenoemde klubs sowel as kankeroorwinnaars, gesins- en familielede, vriende en ondersteuners word aangemoedig om op Pienk-dag hul ondersteuning aan diegene wat met die dodelike siekte worstel, te toon deur so ver as moontlik pienk uitrustings te dra.
In aanloop tot komende Saterdag se aktiwiteite het dr. Ziska Adams, ’n mediese dokter, tesame met Melinda Moller en Daniël van der Spuy, gister (Woensdag 26 Junie) om 19:00 ’n kankerbewusmakingspraatjie by die Carewell-hospitaal gehou.
Dié geleentheid is op die GSN- Blou Bul-Sportnetwerk se YouTube-kanaal uitgesaai.
Die Pienk-dag-verrigtinge begin met ’n bewusmakingsoptog van die Bergsig-kliniek, af in Wesleystraat en dan regs in Van Zylstraat, tot by die rugbyveld.
“Ons nooi ook kerke en organisasies om by ons aan te sluit.
“Van ons lede sal tydens die optog met pienk kartondosies loop waarin mense skenkings kan plaas, wat aan Kansa geskenk sal word,” sê Martin van As, ’n bestuurslid van Rangers.
Benewens skolerugby wat in die oggend gespeel sal word, gaan verskeie aktiwiteite ook aangebied word.
“Kansa het verskeie aktiwiteite vir die dag beplan, waaronder, ’n shaveathon, haarsproei en ander aktiwiteite. Mense word gevra om pienk klere te dra, aan die aktiwiteite deel te neem en op dié manier tot kankerbewusmaking by te dra,” sê Van As verder.
Na afloop van die verrigtinge sal Rangers en Blue Birds mekaar in ’n Grootuitdaagbeker-ligawedstryd die stryd aansê.
Dié twee spanne sal waarskynlik nie presies dieselfde pienk sportdrag dra nie.




