Hoewel Young Hamiltons vanjaar weens verskeie faktore nie die Boland-Top-12- kompetisie gehaal het nie, is sy duisende lojale ondersteuners verlede Saterdag op sjampanje- rugby getrakteer. Daarmee saam is ’n suksesvolle “Rugby teen kanker”-dag aangebied, wat menige rugbygeesdriftige waarde vir hul geld gegee het.

Hammies het sy Pienkdag in samewerking met die CHOC, ’n organisasie sonder winsoogmerk, ter ondersteuning van kinders met kanker gehou en baie goeie ondersteuning van die breë publiek asook buurklubs geniet.

Hoewel die wedstryd slegs ’n finale ligastryd was, het albei klubs – Hammies en Bonnievale Blue Birds – niks teruggehou nie en mekaar lekker opgekeil.

Wat die stryd so merkwaardig gemaak het, was die feit dat Blue Birds hul ondersteuning aan die belangrike dag gegee het deur in pienk truie te speel, en daarvoor was die verteenwoordigers van CHOC, wat die wedstryddag as eregaste bygewoon het, in hul noppies.

Die Hammies-bestuur het met rustyd en met die telling op 33-7 vir Hammies R10 000 aan CHOC oorhandig, wat baie belangrike werk doen.

Hammies het altesaam nege keer agter die Bonnievalers se doellyn gekuier terwyl Blue Birds vyf keer Hammies se doellyn oorgesteek het, wat pure drieëfees-plesier in die Esselenpark-stadion opgelewer het. Die toeskouers is op skitterende hardlooprugby getrakteer, wat soveel meer kleur aan die dag gegee het.

Met die blaas van die eindfluitjie het die telbord op 52-35 in Hammies se guns gestaan, en daarmee is hul rugbyseisoen op ’n hoë noot afgesluit.

Hammies B het 61-31 gewen terwyl die C-span met 33-19 geseëvier het.

Hammies bedank al sy borge vir hul bydrae die hele seisoen.

’n Spesiale dank gaan ook aan Barrels of Goodness, wat meer as 100 truie aan die afrigtingspan, spelers, bestuur en selfs mediese personeel sowel as helpers op die Pienkdag geborg het. ’n See van pienk het die duisende ondersteuners wat vir die wedstryd opgedaag het en later na die karnaval is, begroet.

Die klub berei hom nou vir sy jaareindbyeenkoms voor, wat binnekort plaasvind. Verdere inligting hieroor sal op die klub se amptelike Facebook-blad deurgegee word.

’n Dankseggingsdiens om die seisoen amptelik af te sluit, word ook beplan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article