: ’n Pragtige mosaïekvaas is ’n lekker handvlytprojek. Foto: Seaside glassworks


Mosaïekwerk leer jy so met die doen – rol jou moue op, maak jou hande vuil en kry dié kuns onder die knie.

Jy benodig

keramiekvaas

potlood

spieëlteëls

teëltang

houtlym

turkoois glasklippies

donkerblou Gold Vein-rivierglasteëls

ligblou Gold Vein-rivierglasteëls

rooi glasteëls

swart teëlvoegbry

ou plastiekhouer

spons

sagte lap

So maak jy:

1. Teken met ’n potlood groot krulpatrone op die buitekant van die vaas.

2. Sny die spieëlteëls met die teëltang in smal reghoekige vorms. Ons het spieëlteëls gebruik wat 25 x 25 mm groot is en elke teël in vier stukkies gesny om die verlangde vorm te kry.

3. Plak die spieëlteëls met houtlym op die krulpatrone vas. Voltooi elke krul met ’n glasklippie.

4. Trek nou die rivierglasteëls van die maasrugmateriaal af of verwyder die rugmateriaal deur die teëls in warm water te week.

5. Sny die donkerblou teëls in die helfte en sit dit aan die bo- en onderrande van die vaas. Jy moet dalk ’n paar stukkies in driehoekige vorms sny om te pas om die gedeelte wat met spieëlteëls bedek is.

6. Sny nog donkerblou teëls en sit dit om die spieëlteëls wat op die krulpatrone vasgeplak is. Probeer die geronde vorm van die spieëlteëls volg en onthou om ’n spasie so wyd soos ’n vuurhoutjie te laat – dit word later met voegbry opgevul.

7. As die donkerblou strook om die spieëlteëls voltooi is, kan jy elke ligblou teël in vier stukkies sny en dit hier en daar aan die buitekant van die donkerbloues plak – volg die rondings van die krulpatrone versigtig.

8. Vul al die oorblywende spasies op met rivierglasteëls wat in onreëlmatige vorms gesny is, en ’n paar rooi glasteëls. Laat dan die vaas vir minstens een dag staan om droog te word.

9. Maak swart voegbry in ’n ou plastiekhouer aan. Volg die aanwysings op die verpakking om ’n mengsel te verkry wat soos tandepasta lyk, laat die voegbry vir vyf minute staan, roer dit weer en smeer dit aan die vaas.

10. Smeer die voegbry oor die hele vaas aan en gebruik ’n klam spons om oortollige voegbry af te vee. Jy sal dalk die vaas ’n paar keer moet afvee. Spoel die spons elke keer uit en laat die vaas droog word voordat jy dit weer afvee.

11. Laat die vaas vir minstens ses uur staan om droog te word, en poleer die teëls dan met ’n sagte, droë lap. – Idees

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article