Inwoners in Tindallstraat, Robertson, het onlangs gekla oor water wat aanhoudend in die pad afloop. “Dis ’n hele gemors daar waar hulle gewerk het. Dis morsig hier by die ingang van my hek. Modder word in die huis getrap en dit spat ook teen die vensters en mure,” het een van die inwoners vertel.
Volgens die Langeberg-munisipaliteit was daar die afgelope twee weke, twee verskillende insidente wat bygedra het tot dié probleem. “Die mees onlangse onderbreking het Saterdag (24 Augustus) plaasgevind, wat daartoe gelei het dat water in die straat afgeloop het. ’n Pyp het gebreek. So iets kan in enige gebied gebeur en is buite die munisipaliteit se beheer. Ons het hierdie kwessies aangedurf,” sê Willy-John Gordon, ’n woordvoerder vir die Langeberg-munisipaliteit.
Hy verduidelik ook die ander rede waarom water die pad af stroom. “Reservoir 2 is op 21 Augustus skoongemaak. Ná sulke instandhouding moet die stelsel gespoel word om lug en rommel te verwyder. Verskeie spoeloperasies langs Tindallstraat is die afgelope week hierby ingesluit,” sê Gordon.
Toe Standard Breederivier Gazette Dinsdagoggend die inwoner kontak oor die probleem, het die inwoner laat weet dat dit opgelos is en geen water meer voor haar hek opgaar of by Tindallstraat afloop nie. Die munisipaliteit vra dat enige diensleweringsklagtes summier aangemeld word by 0860 88 1111 of 023 615 2219 of 065 211 7822 (WhatsApp) of info@langeberg.gov.za (e-pos).





