Primrose het Saterdag (31 Augustus) vir Orchard op sy tuisveld in die laaste wedstryd van die 2024-rugbyseisoen behoorlik ore aangesit toe hy hom met uitstekende rugby met 51 punte geklop het.

Primrose begin die wedstryd met ’n onmiddellike aanval, maar Orchard onderskep die bal en sit die telbord sommer vroeg die wedstryd aan die rol.

Die telling nou is 5-0 vir Orchard, maar Primrose kom vinnig terug en Shamieg Williams volg op met ’n drie vir Primrose en die telling is nou gelykop, met 5-5.

Dis Primrose wat nou weer aanvalle wegstuur. Dié keer maak Jowin Nel (heelagter) seker met die doelskop. Die telling is nou 12-5 vir Primrose.

Primrose se voorspelers oorheers nou die skrum en kry weer ’n strafskop. Nel maak weer seker en die telling skuif na 15-5 vir Primrose.

Primrose weet dis sy laaste wedstryd van die 2024-rugbyseisoen en ’n mens kan sien hoe geniet hulle die spel en gee hulle alles.

Ná ’n lynstaan wen Primrose die bal en stuur sy agterlyn weg. Sy vleuel Zane Oktober kry die bal en nael hoekvlag toe vir sy onverdoelde drie. Die telling styg na 20-5 vir Primrose.

Primrose buit al Orchard se foute uit, maar word met ’n slapriem gevang toe Orchard onderskep en sy senter 100 m hardloop vir sy verdoelde drie om die telling 20-12 vir Primrose te maak.

Primrose vergoed vir sy fout en Bertrum Ruiters (vleuel) volg dit op met ’n onverdoelde drie.

Die telling is nou 25-12 vir Primrose, maar weer kom Orchard terug met ’n onverdoelde drie. Die telling is nou 25-17 vir Primrose.

Ná lemoentyd begin Orchard die tweede helfte met dreef. Hy gee alles wat hy het en Primrose moet keer vir ’n vale.

Orchard hou egter druk uitoefen en gaan druk onder die pale. Die doelskop slaag en die telling is nou 25-24 vir Primrose.

Nou is dit game on en beide spanne se ondersteuners laat van hulle hoor.

Primrose fouteer egter weer en Orchard maak seker met die strafskop. Die telling is nou 27-25 vir Orchard.

Maar dis Primrose wat hom regruk. Hy kom terug en Ruiters gaan druk weer. Nel maak seker met die doelskop. Die telling is nou 32-27 vir Primrose

Nou is Primrose aan die brand en Williams gaan druk sy derde drie. Nel maak weer seker. Die telling is nou 39-27 vir Primrose.

Primrose volg dit met nog ’n verdoelde drie om sy sege te verseker.

’n Laaste poging deur Orchard besorg hom ’n troosdrie.

Primrose volg dit op met nog ’n drie en die eindfluitjie blaas op 51-32 vir Primrose.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article