Primrose moes verlede Saterdag (6 April) hard veg vir ’n oorwinning. Dié rugbyklub moes alles uithaal om Orchard met 12 punte teenoor 5 te klop.

Primrose skop in die wedstryd af, met ’n sterk wind van voor. Orchard ontvang die bal en begin onmiddellik met die bal hardloop, maar Primrose se verdediging is rotsvas.

Orchard kry ook vroeg ’n strafskop. Hy lê aan pale toe, maar die poging is onsuksesvol. Ná die afskop kry Primrose omgekeerde besit en nou val hulle weer aan, maar deurkomkans is min. Die twee spanne speel uitstekende rugby, maar om punte op die telbord te kry blyk tevergeefs te wees. Ná die soveelste aanval breek die damwal egter, en Ronaldo Lucas, flank van Primrose, gaan druk langs die pale. ’n Maklike doelskop word egter verbrou. Die telling is nou 5-0 vir Primrose – dít in die dertigste minuut van die wedstryd.

Die wedstryd begin wel momentum kry. Ná nog ’n lynstaan kry Orchard weer ’n strafskop, maar ook hierdie poging is onsuksesvol. Die rustydtelling is 5-0 vir Primrose.

Orchard skop in die tweede helfte af. Primrose ontvang en gebruik die sterk wind van agter pragtig. Hy is weer sterk op die aanval, maar dinge gaan nie so maklik nie. Orchard bied sterk teenstand, en ná die soveelste lynstaan in die wedstryd wen Orchard die bal, speel mooi saam met sy voorspelers en hulle gaan druk ook ’n onverdoelde drie. Die telling is nou 5-5. Orchard speel nou met mag en krag. Hy weerhou Primrose om verder punte aan te teken.

Primrose gaan egter nie lê nie en veg moedig terug. Hy word beloon toe die haker, Marshall Adams, die bal in die hande kry en met brute krag oor die doellyn bars vir sy drie. Jowin Nel maak seker met die doelskop. Die telling is nou 12-5 in Primrose se guns.

Ná nog ’n afskop is Primrose weer op die aanval, maar hanteringsfoute laat hom in die steek en die eindfluitjie kom tot Orchard se redding. Primrose wen met 12-5.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article