’n Baba het Dinsdagmiddag onverwags sy verskyning gemaak by die Total-motorhawe in Riverview.
Die baba se ma het omstreeks 14:50 geboorte geskenk met die hulp van die polisie.
Volgens die Worcester-polisiewoordvoerder, sers. Vatishwa Jacobs, is die sektorbestuurder van sektor 1B, AO Anneline Fillies, deur ’n man voorgekeer terwyl sy in die gebied gepatrolleer het. Hy het haar om hulp gevra.
“Sy swanger meisie het pas van die daghospitaal af gekom toe haar water gebreek het terwyl sy onder die boom oorkant die Total-motorhawe in Riverview gesit het,” sê Jacobs.
Fillies het die vrou gemaklik in die regte posisie gemaak en toe ’n ambulans ontbied.
“Die vrou het begin kraam en die polisiebeampte het haar bygestaan en die gebied met komberse afgebaken. Nog ’n polisiebeampte, konst. Monray Langdon, het na die toneel gekom toe die baba gebore is. Hy het toe sy polisiehemp uitgetrek om die baba te bedek en om hom warm te hou terwyl hulle op die ambulans wag.”
Die babaseuntjie is gesond gebore. Global Force-ambulansdiens het die ma na die Worcester-hospitaal geneem.





