’n Vrou van die Tankwa-Karoo het onlangs haar dankbaarheid teenoor ’n Worcesterse polisiebeampte betuig nadat sy optrede daartoe gelei het dat haar hond se lewe gered is.
Ada Cloete, haar man en een van hul Rottweilers was op pad na ’n veearts nadat die hond deur ’n pofadder gebyt is.
“Ons vermoed dit het Woensdagmiddag gebeur terwyl ons in die dorp was. Ons het eers donker by die huis gekom.
“Toe ons hier aankom, was hier bloed op die kombuisvloer. Ons vermoed dis waar dit (die slangbyt) gebeur het,” sê Cloete.
Hulle het toe verlede Donderdag Worcester toe gejaag om by ’n veearts uit te kom wat hul hond, Mapogo, ’n teengif-middel kon toedien.
Hulle is egter buite Worcester deur die polisie voorgekeer.
“Ek wou ’n kat kraam toe die polisie ons aftrek, want ons het so gejaag om betyds te wees vir die seruminspuiting wat die gif van die slang se pik kon uitwerk. Ek het geweet as ek nie vra nie, kan Mapogo sterf, want ons moes al drie ure ry vanaf die Tankwa Karoo waar ons bly om betyds in Worcester aan te kom, voor ons hond sou sterf.”
Sy voeg by die polisiebeampte het nie gehuiwer nadat sy hul situasie aan hom verduidelik het nie.
“Die beampte het na ’n dierbare man gelyk en ek het nog nie eens my sin klaargemaak nie toe sê hy ‘ry dadelik’. Ek wou vir hom ’n drukkie gee, want ek het dit nie verwag nie.”
Mapogo en sy mense-ouers het as gevolg van daardie beampte se vinnige reaksie dit betyds gemaak vir die teengif-middel om nog sy werk te kon doen.
“Mapogo het ’n skraap oor sy neus, maar verder lyk dit nie of hy gebyt is nie. Die serum het vinnig gewerk en hy was vir 24 uur op ’n drup en is nog op kortisoon en kry antibiotika.”
Sy het die beampte in ’n Facebook-inskrywing bedank.
“Baie, baie dankie; jy’t ons pragtige hond se lewe help red.”




