BONNIEVALE – Die saak ná die plaasaanval by Montagu vroeër vandeesmaand duur steeds voort.

Vier gemaskerde verdagtes het op Donderdag 5 September omstreeks 23:00 by die eienaars van die plaas Stillerus deur ’n oop venster ingeklim. Hulle het ’n 63-jarige man en 51-jarige vrou asook die vrou se bejaarde ma aangerand. Juwele ter waarde van R500 000, ’n Kruger-muntstuk van R40 000, ’n skootrekenaar van R15 000, ’n sonbril van R7 500 en altesaam R4 800 kontant is gebuit.

Die paartjie se Audi Q7 is ook gesteel, maar later verlate gevind.

Die polisie het vroeg in die ondersoek ’n man van belang ingeneem en ondervra.

“Ons het op beeldmateriaal ’n motor opgemerk wat op dieselfde aand van die voorval in die omgewing van die plaas gery het. Die motor se registrasienommer was gemerk op ons stelsel omdat dit glo met ander misdade verband hou,” verduidelik AO Meryll Africa, ’n woordvoerder vir die Bonnievale-polisie.

Sy noem ook die polisie vermoed hierdie spesifieke motor en bestuurder het die verdagtes wat by die plaasaanval betrokke was, opgelaai en elders gaan aflaai het.

Die persoon van belang is egter laat gaan weens ’n tekort aan bewyse.

“Daar was nie genoeg bewyse om hom met hierdie spesifieke plaasaanval te verbind nie, toe moes ons hom laat gaan. Die ondersoek duur egter voort,” het Africa verduidelik.

Enigiemand met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help, kan die polisiekantoor by 023 616 806 skakel en met Africa praat.

Alle inligting word as vertroulik hanteer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article