Drie promosie/relegasie-rugbywedstryde van die Boland-rugbyunie is verlede Saterdag (28 September) in die Boland-stadion in Worcester gespeel.
In die eerste kragmeting het Genadendal en Spring Roses mekaar gepak, waarna Protea en McGregor mekaar die stryd aangesê het. In die laaste wedstryd van die dag het Young Blues en Tulbagh swaarde gekruis.
McGregor-rugbyklub, ook bekend as McGelly, is nou weer terug in die Grootuitdaagbekerkompetisie.
McGelly, wat in Oktober 2022 ná ’n swak seisoen na die Streekuitdaagafdeling gerelegeer is, het egter vanjaar uitstekende rugby gespeel en is as die Langeberg-streekuitdaagwenner aangewys.
McGelly het die Protea-rugbyklub, ook Prouks genoem, tydens hul promosiekragmeting uit die Grootuitdaagbekerafdeling geskouer.
Dit was egter ’n klipharde stryd waarin nie een van die twee wou bes gee nie.
Protea het alles in die stryd gewerp om sy Grootuitdaagstatus te behou, terwyl McGregor, wat die vorige Saterdag in ’n promosiewedstryd teen Touwsrivier vasgeval het, nie sy tweede kans op promosie deur sy vingers wou laat glip nie.
Dus, toe die eindfluitjie ná ’n spanningsvolle 80 minute geblaas het, was dié twee spanne steeds kop aan kop met die telling op 30-30.
Ingevolge die unie se uitspeelkompetisiereëls moes ’n wenner egter aangewys word. Prouks en McGelly moes toe in ’n bykomende 20 minute sake uitspook.
Dit was in hierdie ekstra speeltyd dat McGelly toe die Prouks uiteindelik tot oorgawe gedwing en die promosiewedstryd met 40-30 in sy guns beklink het.
Met dié sege het McGregor sy plek in 2025 se Grootuitdaagbekerkompetisie verseker, terwyl Protea na die Streekuitdaagbekerafdeling gerelegeer is.
In die ander twee promosie/relegasie- wedstryde wat gespeel is, het Genadendal sy plek in die Grootuitdaagbekerafdeling behou deur Spring Roses (Overbergstreek) met 38-20 te klop.
Young Blues (WitSentraalstreek) het ook sy verdere deelname aan die Grootuitdaagbekerkompetisie verseker nadat hy Tulbagh ook in bykomende tyd met 34-27 die loef afgesteek het.



