Eskom se aangevraagde reuse-verhoging vir 2025 wek groot kommer.


Eskom se voorgestelde verhoging in tariewe maak die publiek behoorlik onthuts.

Eskom het onlangs bekend gemaak hy gaan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) vra om sy voorgestelde verhoging van 44% goed te keur.

Dit volg nadat ’n aansienlike verhoging in die prys van elektrisiteit vanjaar ook ingestel is.

“Ons gaan gebuk onder die hoeveelheid geld wat ons maandeliks aan krag bestee. Nou kan jy jou indink hoe erg dit nog volgende jaar gaan wees,” het ’n werker by ’n plaaslike tuisnywerheid gesê.

’n Middelinkomste-gesin gee nou minstens R500 meer op elektrisiteit uit ná die verhoging vroeër vanjaar.

“Voor die verhoging het ons R900 se krag vir die maand gekoop. Nou koop ons maandeliks ongeveer R1 500. En ons gebruik ’n gasstoof. ’n Mens sou dink dat dit ’n groter uitwerking sou hê, maar inteendeel. Ek sidder om te dink hoe erg dinge gaan raak as Eskom daarin slaag om sy voorgestelde verhoging deur Nersa te laat goedkeur.”

Diegene wat minder verdien, kan nie sien hoe hulle oor die weg gaan kom as hierdie voorgestelde verhoging goedgekeur word nie.

“Dis moeilik. Ons het nie altyd krag nie, want daar is nie altyd geld nie. Dinge raak net moeiliker en as die verhoging goedgekeur word, weet ek nie hoe ons gaan survive nie,” meen ’n inwoner van ’n laeinkomstehuishouding.

Die DA het ook onlangs ’n petisie geskep en inwoners genooi om dit te onderteken in hul poging om teen die voorgestelde verhoging kapsie te maak.

DA-burgemeesters oor die land heen het ook hul misnoeë oor die voorgestelde verhoging direk met Eskom gedeel.

Volgens die DA se webtuiste het Eskom sedert 2007 die prys van krag reeds met 450% verhoog. Die party is ook van mening dat die verhoging ondraaglike finansiële druk op huishoudings plaas, wat reeds met hoë lewenskoste sukkel.

Teen Maandag (30 September) het 113 103 mense die petisie aanlyn onderteken.

Die Breedevallei se burgemeester, Antoinette Steyn, sê sy sal aanhou teen die verhoging baklei.

“Ons mense kan nie die verhoging bekostig nie. Ek sal tot die bitter einde baklei. Ons kan nie ons mense meer geld vra nie; dit staan nêrens in ons boeke geskryf nie. Ons mense kan nie so gestraf word vir ander se foute nie. Almal raak net armer,” sê sy.

Steyn en ander plaaslike raadslede het ’n veldtog in September gehou om seker te maak soveel as moontlik plaaslike inwoners onderteken die petisie teen die verhoging.

“Plaaslik het ons sowat 5 000 handtekeninge gekry. Dit is alles na ons provinsiale leier gestuur.

“Natuurlik het ons ook ons briewe na die land se president en die minister van elektrisiteit gestuur. Iewers sal die president na ons krete moet begin luister.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article